2008/09/09

9 September 1939 : Hereniging tussen dr. D.F. Malan en genl. J.B.M. Hertzog


‘n Warm gevoel van uitbundige vreugde en dankbaarheid het die Nasionale Afrikanerdom op hierdie dag uit alle uithoeke van ons land laat optrek na Monumentkoppie, waar ‘n gedenkteken vir die Voortrekkers aan die verrys was. “Hy het sy offer gebring,” het dr. D.F. Malan verklaar toe genl.. Hertzog, Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, se mosie dat die Unie van Suid-Afrika neutraal bly in ‘n oorlog “wat nie ons s’n is nie” op Maandag 4 September in die Volksraad verwerp is. Genl. Smuts se teen mosie is aanvaar, en genl.. Hertzog het sy bedanking ingedien. En toe sy “segetog” per trein na die Noorde. Op elke stasie is hy ingewag deur juigende Afrikaners. In Johannesburg het dr. H.B. Stegman, skoonseun van Jan Celliers, Dinsdagoggend, 5 September, aan die FAK-sekretaris, mnr. I.M. Lombard, en sy hulpsekretaris, dr. P.J. Meyer, voorgestel dat ‘n groot saamtrek van Afrikaners by Monumentkoppie op Saterdagmiddag, 9 September 1939, gereël moet word waar dr. D.F. Malan, leier van die Herenigde Party, en genl.. J.B.M. Hertzog, geliefde leier van die Nasionale Party, voor samesmelting, mekaar die hand sal reik om die “hereniging van almal wat bymekaar hoort” in te lui. Reëlingskomitees is per telefoon en per boodskappers in alle dele van die land gestig, en by die tienduisende het dankbare, singende Afrikaners in die pad geval – Monumentkoppie toe. Totius het huiwerig ingewillig om ‘n “volksverklaring” op te stel en voor te lees, waardeur almal teenwoordig “met die opsteek van hul hande” uitdrukking sal gee aan hul wil en begeerte om as Afrikaners vorentoe saam te werk en saam te stry op die pad van Afrikaner-selfstandigwording. Dit het egter byna ‘n dekade geduur voordat hierdie onderneming sou uitloop op ‘n politieke sukses: die Nasionale verkiesingsoorwinning van 1948. Die FAK het ‘n paslike adres vir hierdie geleentheid laat druk, wat baie jare in duisende Afrikaners se huise vertoon is. aka fak PJM

No comments: