2008/09/10

10 September 1948 : Aankoms van Duitse oorlogs wesies in Pretoria


Drie en tagtig na-oorlogse Duitse wesies het op 8 September 1948 in Tafelbaai aangekom en op hierdie dag, in Pretoria. Die gedagte om na 1945 kinders uit Duitsland vir aanneming na Suid-Afrika te bring, het by mev. Nellie Liebenberg ontstaan. Dr. T.E.W. Schumann het die voorstel verder gevoer. Ander betrokkenes deur die jare was die sekretaris. Schalk Botha, dr. Chris Neethling, mnr. J.C. Combrink, dr. J.C. Kriek en dr. Vera Bührmann. In Duitsland was dit Wilhelm Käber. Die bedoeling was om geld in te samel en dan soveel en so gou as moontlik Duitse wesies na Suid-Afrika te bring, ten einde die ellende in Duitsland te verlig en om die Afrikanervolk se getalle te vermeerder. Die eerste vergadering het op 4 September 1945 plaasgevind, en hieruit is die Dietse Kinderfonds gebore. Die skema het pragtig gevorder, maar premier Jan Smuts het die plan al vertragende uiteindelik afgekeur. In September 1947 het die Kabinet dit egter toegelaat dat 100 wesies gebring word, en die Regering sou self die vervoerkoste dra. Maar daar was ongeveer 800 pleegouers en gevolglik moes streng gekeur word. Uit Duitsland self het weerstand ontstaan omdat die vernietigde land ook nog van sy kinders moes prysgee! Uit Schleswig-Holstein het 34, uit Hamburg 30, uit Niedersachsen 9 en uit Nordrhein-Westfalen 14 kinders gekom. Dit is 87 – vier het later per vliegtuig gekom en nie met die Winchester Castle gereis nie. Op 6 April 1963, dus na 15 jaar, is ‘n reünie in Pretoria gehou – die kinders was in 1948 hoofsaaklik tussen drie en agt jaar oud en is slegs by Afrikaner ouers geplaas. Eers op 11 November 1967 het die jongste kind mondig geword, en toe het die amptelike aanspreeklikheid van die Dietse Fonds teenoor die wesies geëindig. Van 83 aankomelinge is 62 in Pretoria en omgewing geplaas. Premier D.F. Malan het self ook ‘n dogtertjie aangeneem. Die Duitse weeskinders het in elke opsig die Afrikanerdom pragtig verryk. Die skema was volledig die moeite werd. Aka fak MJS

No comments: