2008/09/08

Die Stem van Suid-Afrika...

Gedig deur C.J. Langenhoven,
later getoonset deur M.L. de Villiers



Uit die blou van onse hemel,
uit die diepte van ons see,

Oor ons éwige gebergtes
waar die kranse antwoord gee,

Deur ons vér verlate vlaktes
met die kreun van ossewa –

Ruis die stem van ons geliefde,
van ons land Suid-Afrika.

Ons sal antwoord op jou roepstem,
ons sal offer wat jy vra:

Ons sal lewe, ons sal sterwe –
ons vir jou, Suid-Afrika.

In die merg van ons gebeente,
in ons hart en siel en gees,

In ons roem op ons verlede,
in ons hoop op wat sal wees,

In ons wil en werk en wandel,
van ons wieg tot aan ons graf –

Deel geen ander land ons liefde,
trek geen ander trou ons af.

Vaderland! ons sal die adel
van jou naam met ere dra:

Waar en trou, as Afrikaners –
kinders van Suid-Afrika.

In die songloed van ons somer,
in ons winternag se kou,

In die lente van ons liefde,
in die lanfer van ons rou,

By die klink van huw'liksklokkies,
by die kluitklap op die kis –

Streel jou stem ons nooit verniet nie,
weet jy waar jou kinders is.

Op jou roep seg ons nooit nee nie,
seg ons altyd, altyd ja:

Om te lewe, om te sterwe –
ja ons kom, Suid-Afrika.

Op U Almag vas vertrouend
het ons vadere gebou:

Skenk ook ons die krag, o Here,
om te handhaaf en te hou –

Dat die erwe van ons vaad're
vir ons kinders erwe bly:

Knegte van die Allerhoogste,
teen die hele wêreld vry.

Soos ons vadere vertrou het,
leer ook ons vertrou, o Heer:

Met ons land en met ons nasie
sal dit wel wees, God regeer.

No comments: