2008/09/07

7 September 1801 : Sarel Cilliers gebore


Op hierdie dag is die bekende Voortrekkerleier, Sarel Arnoldus Cilliers op Klein-Drakenstein gebore. Met die begin van die Groot Trek bevind hy hom in die omgewing van Graaf-Reinet, en in 1836 sluit hy hom aan by die trekgroep van Hendrik Potgieter. Hy neem deel aan die beslissende slag van Vegkop en vergesel ook die Voortrekkers se ekspedisie teen die Matebele. Veral as geestelike leidsman beteken hy baie vir die medetrekkers, dien in die kerkraad, neem dienste waar en is later ‘n eerbiedwaardige ouderling, eers in Pietermaritzburg en later in die gemeente Kroonstad, want in 1847 vestig hy hom op die plaas Doornfontein in die distrik van die teenswoordige Lindley. Hy word ook genoem die Vader van die Gelofte, want dit is hy was as spreekbuis van die Voortrekkers by Danskraal die Gelofte aflê en daarna ook deelneem aan die roemryke Slag by Bloedrivier. In die jare na die Slag by Bloedrivier is die Sondagoorwinning al minder herdenk en was dit selfs vir Sarel Cilliers nodig om by ‘n geleentheid die held van die slag, Andries Pretorius, aan te spreek oor sy versuim om die Gelofte na te kom. Daarteenoor het Sarel Cilliers getrou die besondere gebeurtenis herdink. Sy huis was die middelpunt van die herdenkings geleentheid, wat gewoonlik uit die volgende program bestaan het:

In die voormiddag het hy en sy gesin saam gesing, gebid vir sy land en volk, uit die Bybel gelees en daarna is die Gelofte verduidelik en die geskiedenis vertel. In die namiddag was die mense weer byeen om self elkeen iets oor die geleentheid mee te deel. Vir Sarel Cilliers het die herdenking van Geloftedag deur sy hele lewe ‘n ernstige saak gebly, ondanks die gebrek aan ‘n nasionale besef, wat eers heelwat later aan die herdenking van die Gelofte ‘n sentrale plek in die Afrikaner se volkslewe sou toeken. In die Vrystaat neem hy ook verantwoordelik deel aan die volkslewe en stuur self in 1854 voorstelle vir die nuwe grondwet na Bloemfontein. Tot sy dood op 4 Oktober 1871 op Lindley, neem hy aktief aan die kerklike lewe deel en is hy verskeie kere ouderling by Sinodesittings. So was hy byvoorbeeld teenwoordig by die Sinode van 1862, toe die Transgariepse afgevaardigdes se sittings reg deur ‘n omstrede hofbeslissing (die bekende Loedolfsaak) hul ontneem is. aka fak PBvdW

No comments: