2008/09/08

8 September 1901 : Dr. H.F. Verwoerd gebore


Hendrik Frensch Verwoerd is in Amsterdam uit die huwelik van ‘n Nederlandse egpaar wat tot die Christelike-Gereformeerde geloof behoort het, gebore. Dit was ‘n feit wat die lewe van hul seun diep sou beïnvloed. Die seun is gebore net in die tyd toe die Engelse Oorlog in Suid-Afrika gewoed het. Die egpaar Verwoerd het, soos dit met alle Nederlanders die geval was, diep met die Afrikaanse volk gesimpatiseer. Dit het hulle in 1903 na die einde van die oorlog laat besluit om na Suid-Afrika te emigreer. Die vader het hom as bouaannemer in Wynberg naby Kaapstad gevestig. Hier het die jong seun sy eerste skoolonderrig ontvang – alles in Engels. Die vader, wat in naweke sendingwerk onder die nie-blankes gedoen het, het die drang gevoel om al sy aandag aan kerklike werk te wy. Hierop het die gesin in 1914 na Bulawayo in Rhodesië verhuis, waar die vader in diens van die Nederduitse Gereformeerde Kerk getree het. In 1918 is die gesin na Brandfort in die Vrystaat. Na ‘n skitterende skoolloopbaan het die jong Verwoerd hom in 1919 aan die Universiteit van Stellenbosch as student laat inskryf. Sy studieloopbaan was net so skitterend. In 1925 het hy die doktorsgraad in Sielkunde behaal. Op 28-jarige leeftyd is hy tot professor benoem. In 1932 het hy professor in Sosiologie geword. As sodanig was hy een van die leidende figure met die volkskongres oor die armblankevraagstuk wat in Oktober 1934 in Kimberley gehou is. In 1937 het Verwoerd hoofredakteur van die pas gestigte dagblad, Die Transvaler, in Johannesburg geword. As sodanig was Verwoerd spoedig een van die vernaamste manne in die Nasionale Party. Hy het veral bekendheid verwerf vir die wyse waarop hy die republikeinse ideaal gepropageer het. In 1948 het hy lid van die Senaat geword. Sy optrede hier was sodanig dat hy reeds in 1950 tot Minister van Naturellesake in die Kabinet van dr. Malan benoem is. Verwoerd kan inderdaad die grondlegger van die beleid van aparte ontwikkeling genoem word. Onder die wette wat hy ingedien het, was die van Bantoe onderwys, selfbestuur vir die Bantoe, die ekonomiese ontwikkeling van die tuislande, die opruiming van agterbuurte en die administrasie van die Bantoe in stedelike gebiede van die vernaamste. Op 2 September 1958 is hy tot Eerste Minister aangewys. In hierdie hoedanigheid was een van sy eerste stappe om deur middel van ‘n volkstemming van Suid-Afrika ‘n republiek te maak. Dit het op 31 Mei 1961 gebeur. Suid-Afrika het daarna uit die Britse Statebond getree. In sy bewind as Eerste Minister is ‘n hele aantal stappe van vêrreikende betekenis gedoen. So is begin met die opdamming van die water van die Oranjerivier, die bou van ‘n kernreaktor, die skepping van ‘n wapen bedryf, die stigting van ‘n Ekonomiese Adviesraad en die verlening van selfbestuur aan die Transkei. Dit was ook tydens sy bewind dat Suid-Afrika te doen gekry het met die vraagstukke in verband met Suidwes-Afrika en Rhodesië. Op 6 September 1966 is Verwoerd in die saal van die Volksraad deur Demetrio Tsafendas, ‘n bode wat ‘n skisofreen was, om die lewe gebring. Aka fak GDS

No comments: