2008/08/05

5 Augustus 1915 : De Klementie Beweging


Op die dag berig De Burger dat die vroue-optog die vorige middag in Pretoria om by die Goewerneur-generaal om begenadiging vir die Rebelle-gevangenes te pleit, “ruim vier duizend” sterk was. “Die twee mijlen lange tocht naar het Unie gebouw kenmerkte zich door diepe ernst, kalmte, waardigheid en beslistheid. Vele bejaarde dames waren er onder.”

Die Afrikanervroue van regoor die land het in die amfiteater van die Uniegebou vergader. Vooraf is ‘n welkomswoord deur die Betogings komitee uitgespreek. ‘n Besielende boodskap van mev. (pres.) Steyn is deur mev. Helgaard Steyn voorgelees. Die versoekskrif aan die Goewerneur-generaal is deur mev. J. Roos van die ACVV in Kaapland voorgelees, eenparig goedgekeur en aan die afvaardiging na die Goewerneur-generaal oorhandig. Psalm 146 vers 5 is gesing na ‘n gebed deur mev. Kestell.

Die afvaardiging na die Goewerneur-generaal was onder die leiding van mev. (genl.) Joubert wat saam met mev. Eloff die Unie verteenwoordig het. Hulle was vergesel deur “de Dochters” mev. Malan en mev. Van Broekhuizen, mev. Roos en mev. Muller namens Kaapland, mev. Kestell en mev. Helgaard Steyn namens die Vrystaat, mev. Ds. Neethling en mev. Armstrong namens Transvaal en mev. Coen en mev. Kemp namens Natal. Die afvaardiging het teruggekeer met die Goewerneur-generaal se antwoord dat hy self nie by magte is om aandag daaraan te gee nie, maar dat hy dit na sy ministers sal verwys.

Die versoekskrif was deur sowat 40 000 mense onderteken. Die vroue moes daardie dag eers onverrigte sake omdraai en hulle het in gelid na Kerkplein gestap waar hulle Ges. 22 gesing het. Op 5 Augustus het hulle by die dieretuin vergader om op die ministers se antwoord te wag. Daar is die eggenotes van o.m. genls. De Wet, De la Rey, Kemp, Muller en Pienaar en die moeder en weduwee van Jopie Fourie na die verhoog geroep om medelye met hulle te betoon. Toesprake is gehou, daar is gebid en gesing. Die vroue moes nog vier dae wag op die ministers se antwoord. Dit was kort en het gelui:

Ik ben door de Goewerneur-generaal gelast u te melden, dat zijn Ministers niet in staat zijn een rekommendatie te maken totdat alle hoogverraadzaken afgelopen zijn, waarna elke afsonderlik geval op zijn eigen merieten overwogen zal worden. De Burger sê in sy redaksionele kommentaar in die uitgawe van 10 Augustus “dat de Regering een nieuw bewijs geleverd heeft dat zij met het volksgevoel geen rekening houdt”. FAK

No comments: