2008/08/04

4 Augustus 1914 : Eerste Wêreldoorlog breek uit


Reeds sedert die sestiende eeu word die verhouding tussen die Europese moondhede deur die beginsel van die magsewewig beïnvloed. Daarvolgens sluit twee of meer moondhede 'n militêre verbond wat ten doel het om ‘n moondheid wat so sterk word dat hy vir die veiligheid van die ander ‘n gevaar word, teen te gaan.
Aan die einde van die negentiende eeu was dit reeds duidelik dat Duitsland, wat ekonomies en industrieel geweldig e opgang gemaak het, so sterk geword het dat hy in staat was om politiek ‘n oorheersende rol te speel. Dit was met die oog op die groeiende Duitse mag dat Frankryk en Rusland in 1893 ‘n verbond gesluit het wat teen Duitsland gerig was.
Brittanje het hom aanvanklik nog in “splendid isolation” teruggetrek, maar toe Duitsland aan die begin van die twintigste eeu hom op die bou van ‘n sterk oorlogsvloot toegelê het, het hy in 1904 met Frankryk en in 1907 met Rusland ‘n ooreenkoms gesluit wat ten doel gehad het om die magsewewig te handhaaf.
Dit was hierdie groot teenstelling tussen die moondhede wat in 1914 gelei het tot die militêre botsing wat as die Eerste Wêreldoorlog bekend staan. Teen Duitsland en Oostenryk-Hongarye het gestaan Brittanje, Frankryk, Rusland en sedert 1915 ook Italië. Dit twee strydende partye het aanvanklik goed teen mekaar opgeweeg. Die Duitse magte het in 1915-16 egter sulke groot oorwinnings oor die Russe behaal dat dit tot die militêre ineenstorting van laasgenoemde gelei het.
Dit het in 1917 daartoe gelei dat die Kommuniste onder leiding van Lenin en Trotski die politieke mag in Rusland in die hande kry en in 1918 met die Duitsers vrede sluit. Dit was in hierdie stadium reeds duidelik dat Brittanje en Frankryk nooit daarin sou slaag om Duitsland te oorwin nie. Hulle is in 1917 gered deur die toetrede van Amerika tot die oorlog. ‘n Groot deel van die wêreld was nou teen Duitsland, wat op die vasteland van Europa geblokkeer was, sodat hy ekonomies steeds swakker geword het. Dit was hierdie feit wat die nederlaag van Duitsland beklink het.

‘n Revolusie het in Duitsland uitgebreek, en op 11 November 1918 is ‘n wapenstilstand gesluit. Met die Vrede van Versailles op 28 Julie 1919 is swaar laste op Duitsland gelê, met die doel om te verhinder dat hy weer in staat sal wees om die magsewewig te versteur. Ook die Unie van Suid-Afrika het in die oorlog betrokke geraak toe hy op versoek van Brittanje Duits-Suidwes-Afrika verower het.
Vir ‘n deel van die Afrikaanse volk wie se republikeinse onafhanklikheid slegs twaalf jaar tevore deur Brittanje vernietig was, was dit te veel, en ‘n Rebellie was die gevolg. Hoewel die opstand maar kort van duur was, was die politieke uitwerking daarvan besonder groot. Die Rebellie was die groot faktor wat die Nasionale Party so ‘n groot opgang laat maak het. dr. G.D. Scholtz

No comments: