Die Zuid-Afrikaanche Republiek is in April 1877 deur Brittanje geannekseer. Verskeie samesprekings is tussen die Boere en die Britte gehou om die sak te besleg – juis ook in Engeland, maar dit het niks opgelewer nie. Daarna het die Transvaalse Vryheidsoorlog van 1880 tot 1881, gevolg.
Hieruit het talle verder onderhandelings gespruit wat tot die Konvensie van Pretoria in 1881 gelei het. Dit het bepaal dat van 8 Augustus af die ZAR weer in elke opsig selfbestuur sal geniet, maar nie volle onafhanklikheid nie, want hy was aan Britse soewereiniteit en sekere ander voorwaardes onderworpe.
Namens Boerekant het S.J.P. Kruger, M.W. Pretorius en P.J. Joubert geteken. Hercules Robinson het as Britse Hoë Kommissaris geteken, Evelyn Wood as Britse hoofamptenaar in Transvaal en sir Henry de Villiers as Kaapse Hoofregter. Pres. Brand het as vriend en raadgewer vir albei partye opgetree.
Veral Wood was, seder die onderhandelings tussen die Boere en die Koninklike Kommissie in April begin het, uiters onverdraagsaam en ontoeskietlik. Die Konvensie was toe ook baie ongunstiger as wat verwag is, en as wat Transvaal na sy Amajuba-oorwinning verdien het. Onder meer is bepaal dat die ZAR heelwat grond aan sy wesgrens moet afstaan, dat hy in binnelandse sake grootliks vry is, maar met buitelandse sake telkens op die goedkeuring van Engeland moet wag.
Swaziland is onafhanklik van Transvaal verklaar. ‘n Beledigende bepaling aangaande slawerny is ook opgeneem – beledigend, omdat die indruk gewek is dat slawerny in Transvaal bestaan het en nou danksy Brittanje verbied word.
Verder is ‘n vast Kommissie van Naturelle lokasies en ook ‘n Britse Resident in Pretoria benoem. Naturelle is voorts vryheid van beweging en hulle reg op grondbesit en toegang tot die Resident aangaande klagtes gewaarborg. Engeland kon ook in oorlogstyd Britse troepe ongehinderd deur die gebied laat trek.
Alle ooreenkomste deur Transvaal met naturelle gesluit, sou deur die Resident nagegaan en goedgekeur moet word.
Oor en weer sou kompensasie vir skade tussen 1877 en 1881 gely, nagegaan en uitbetaal word. Transvaal moes ‘n hoë skuldelas teenoor Engeland betaal. Vryheid van godsdiens en volle geleentheid tot regspraak sou voortbestaan.
Grenslyne is behoorlik vasgestel, behalwe die suidwes-grens.
Op 8 Augustus is die land toe formeel en amptelik aan die Boere as die Transvaal-staat oorhandig en nie as die ZAR nie. Honderde gewapende burgers was op Kerkplein teenwoordig.
Paul Kruger is deur ‘n berede erewag ontmoet.
Die vierkleur is onder groot toejuiging gehys.
Staatsekretaris Bok het ‘n vryheid dokument voorgelees.
Amptenare is later beëdig.
Die Konvensie het Kruger as leier van die Transvaalse Boere laat uittroon, maar tegelyk sy ywer geprikkel om op meer regte en vryhede wat in 1877 verlore gegaan het, aan te dring. Kruger en ander het dadelik om volle herstel van die vryheid gepleit.
Hieruit het die Konvensie van Londen van 1884 gevolg. Prof. dr. M.J. Swart
No comments:
Post a Comment