2008/08/29

29 Augustus 1917 : Oom Japie Helpmekaar se Brief


Op 3 September 1917 publiseer De Burger ‘n brief gedateer 29 Augustus 1917, onderteken deur J.E. de Villiers. Hierdie brief en sy ondertekenaar was bestem om ‘n unieke rol te speel in die Helpmekaarbeweging, wat gestig is om rebelle skuld en –boete te delg na die Rebellie van 1914. Jakob Elisa de Villiers (later oom Japie Helpmekaar genoem) is op 31 Desember 1835 op die plaas Waterval, Groot Drakenstein, gebore. Hy was in 1917 ‘n welgestelde boer uit die Paarl, ‘n godsman en ‘n volksman. In sy brief aan De Burger bied hy aan om £500 aan die Helpmekaarbeweging te skenk, mits 500 ander persone bereid sou wees om elk £100 tot die fonds by te dra. Hy het geglo dat die volk verplig is om te voorkom dat vooruitstrewende landbouers tot die bedelstaf gedwing word en die armblankes vermeerder. Japie de Villiers het sy volk geken en in sy mense geglo; hy het verwag dat daar reaksie sal wees; maar die reaksie wat gevolg het, kon niemand voorsien het nie. Die Afrikaner het sy ereskuld gedelg, en meer as twee maal die verwagte bedrag is ingesamel, sodat die oorskot beskikbaar gestel kon word vir volksake, soos die toekenning van studiebeurse. Uit die besieling en onselfsugtigheid van een man het ‘n volksbeweging ontstaan; ‘n gevoel van samehorigheid en die begeerte om mekaar in nood by te staan, het by die Afrikaner posgevat. En soos by alle ware, besielde volksbewegings, was die resultaat oorweldigend. Oom Japie Helpmekaar is op 6 Julie 1921 in die Paarl oorlede. aka fak PGN

No comments: