2008/08/19

19 Augustus 1930 : ATKV (SAS & H)


Die dertigerjare van hierdie eeu konfronteer die Afrikanervolk op feitlik alle lewensterreine met kultuur produksie en lewenstyle wat vreemd is aan die tradisionele lewenstyl van die Afrikaner. Hierdie toedrag van sake is sterk in die hand gewerk deur die feit dat die Engelse taal en kultuur op feitlik alle lewens vlakke prioriteit geniet het – ‘n erfenis uit die tyd van Rhodes, Milner, Smuts en Botha. Van die staatsdepartemente was die Spoorweë seker een van die belangrikste erfgename van hierdie toedrag van sake.

Die ou Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Spoorweg Maatschappij van die Zuid-Afrikaansche Republiek, wat tydens die Britse militêre bewind deur die Imperial Military Railways van Milner oorgeneem is, het ‘n heenkome gebied vir ‘n groot aantal Engelse soldate, met die gevolg dat veral die Spoorweë op feitlik alle vlakke tot oorlopens toe gevul is met eentalige Engelssprekende amptenare en personeel.

Ook in al drie die ander provinsies was die voertaal van die Spoorweë voor Uniewording in 1910 deurgaans Engels. Juis in hierdie tydperk tree die armblankevraagstuk besonder sterk na vore en is die Spoorweë naas ander staatsdepartemente die instansie wat ‘n heenkome bied vir die talle ongeskoolde blanke Afrikaanssprekendes, destyds sogenaamde armlastiges genoem wat hulle toevlug na die stede neem.

As gevolg van hierdie toedrag van sake het die Afrikaanse taal en kultuur by die Spoorweë reeds by voorbaat ‘n geweldige agterstand om in te haal. Dit is nog vererger deur die feit dat die meeste senior administratiewe en tegniese betrekkings deur eentalige Engelssprekende amptenare gevul is, terwyl die Afrikaanssprekende werknemer hoofsaaklik ongeskoolde arbeid in die laer range van die Spoorwegdiens verrig het.

Juis omdat die Spoorweë onvoldoende omgesien het na die taal- en kultuurbelange van die Afrikaanssprekende werknemer, het die behoefte aan die totstandkoming van ‘n kultuurvereniging ontwikkel.

Op 19 Augustus 1930 kom die ATKV (SAS & H) onder voorsitterskap van mnr. S.J. van der Spuy, later superintendent van Handel en Personeel van die Kaapse Oostelike Afdeling van die Spoorweë, in die Raadsaal van die Spoorweg hoofkantoor gebou in Kaapstad tot stand.
‘n Handjievol geesdriftige Afrikaners was by hierdie geleentheid teenwoordig. Die nuut gestigte vereniging sou as spreekbuis van die Afrikaners in diens van die SA Spoorweë dien om die taalregte van die Afrikaners in die Spoorweë te beskerm en te bestendig. As een van die vernaamste doeleindes van die Vereniging word gestel: “….. om ‘n wakende oog ….. oor die Afrikaanse taalbelange (te) hou.”

Die doel en strewe van die Vereniging word in die eerste eksemplaar van die Vereniging se maandblad, Die Taalgenoot, kernagtig geformuleer in die leuse van die Vereniging, t.w. “Handhaaf en bou” en “Praat, lees en skryf Afrikaans”.

Die volledige oorspronklike doelstellings van die Vereniging lui soos volg:

(a) Om die gebruik van Afrikaans binne sowel as buite die Spoorwegdiens te bevorder
en ‘n lewendige belangstelling in Afrikaanse kuns en kultuur aan te kweek.
(b) Die bevordering van die intellektuele en kulturele welsyn van sy lede.

Die grondslag van die Vereniging is in 1934 bewus soos volg geformuleer: “Die vereniging staan op Christelik-historiese grondslag.” Die Vereniging sien homself as die draer van die gedagte waarin die denkbeeld dat die Afrikanervolk ‘n geroepe volk is, sentraal staan. Hierdie roeping hou dan ook onder meer in die handhawing en uitbou van die tradisionele geestesgoedere van die Afrikanervolk. Aka fak M.E.B

No comments: