2008/08/10

10 Augustus 1866 : Antjie Somers


Die vroegste bekende verwysing na Antjie Somers verskyn op hierdie dag in The Friend (Bloemfontein). Hierin word vermeld dat Antjie Somers tydens die bewind van lord Charles Somerset ‘n berugte struikrower in Kaapland was: ‘n manspersoon – Kleurling of nie-blanke – wat vroueklere aangetrek en die Kapenaars snags aangerand en beroof het op pad huis toe. Die 18de en 19de eeu was ‘n onveilige tydperk in ons land se geskiedenis, en in die besondere lewensomstandighede van destyds het ‘n histories figuur geleidelik ‘n sage figuur in ons volksoorlewering geword. Daar is vertel dat Antjie Somers kinders ontvoer wat alleen of ontydig buite loop, dat hy by huise aanklop wanneer die mans weg is en die vroue en kinders aanrand, dat hy as ‘n bediende werk soek en die kinders met ‘n handbyltjie doodkap – en altyd was hy vermom in vroueklere. Dis opmerklik dat die oorspronklike struikrower-oorlewering mettertyd verflou het, en dat hy ‘n kinderskrik in ons volksgeloof geword het. Soos dergelike gestaltes in die kinderwêreld, het Antjie Somers ook ‘n afskrikwekkende uiterlike vertoon – ‘n heks as’t ware. Antjie Somers het ook mettertyd ons volkstaal binnegedring (uitdrukkings, klankspeling en assosiasies.) ‘n Ander bekende verskynsel in ons volksoorlewering is Tokkelossie. Die bygelowe in verband met hierdie skrikfiguur stam uit die kultuurkring van die Swartmense. Die Swartmense se Tokkelossie is ‘n kindervriend…., maar by die blankes staan hy bekend as ‘n kinderskrik. By die Swartmense heers die opvatting dat Tokkelossie onsigbaar is en ook ‘n geskikte boodskapper van die towenaars en hekse is. Met die oorgang na die blanke kultuurbelewing, is dit opvallend dat Tokkelossies veral verbind word met goëlery en alles wat daarmee saamhang. dr. W.J.G. Loots

No comments: