2008/08/12

12 Augustus 1779 : Lang Hans van Rensburg


Johannes Jacobus (Lang Hans) van Rensburg is vandag aan die Sondagsrivier in die Graaf-Reinetdistrik gebore. Teen 1803 het hy noordwes van Beaufort-Wes geboer, maar vanweë die Boesmangevaar, voortdurende droogtes en verliese veroorsaak deur trekbokke en sprinkane, het Van Rensburg en ‘n aantal Nuweveldse boere hulle teen 1830 aan die Caledonrivier in die suidoostelike Trans-oranje gevestig.

Met die Sesde Grensoorlog is hulle opgekommandeer om die koloniale grense te verdedig, maar na die oorlog in 1835 het die Van Rensburggeselskap hom by die Tregardt-trek aangesluit. Op hierdie tydstip was Van Rensburg 56 jaar oud – die oudste van al die Voortrekkerleiers wat aan die Groot Trek sou deelneem. Aangesien wrywing dikwels voorgekom het tussen die twee trekke, onder meer oor die spaarsame gebruik van ammunisie en oor die trekroete, het hulle by Strydpoort geskei – so genoem vanweë die twee leiers se woordestryd. Van Rensburg het hom daarna in die omgewing van die plaas Gevonden by die Soutpansberg gaan vestig. Teen Junie 1836 het hy oor die Lebomboberge getrek, en teen die einde van Julie 1836 het die trekgeselskap die Djindispruit, ‘n sytak van die Limpopo in Mosambiek bereik, waar hulle gedurende die nag deur ‘n impie van Manukozi oorval en uitgemoor is. G.J. Jooste

No comments: