2008/07/27

27 Julie 1863 : Versinnebeelding van die Voortrekkervrou


Susanne Catharina Maritz is op 28 Augustus 1799 in Uitenhage gebore. Teen haar sin is sy op 13-jarige leeftyd met Erasmus Smit in die huwelik bevestig. Twee seuns is uit die huwelik gebore, t.w. Salomon en Hermanus Samuel George. Op die Groot Trek het sy belangrike opvoedkundige werk verrig: sy het die Voortrekker dogters in brei- en naaldwerk onderrig en vir vele kinders letter onderwys gegee. As aktiewe, moedige en diep godsdienstige persoon van rysige gestalte, het sy die Voortrekkervrou versinnebeeld: daagliks is kos gekook, brood in miershope gebak, klere gemaak, wasgoed in riviere en stroompies gewas en soms ook skape geslag en bewerk.

Sy het besondere deursettingsvermoë, heldemoed en onverskrokkenheid aan die dag gelê. Susanna was ‘n belangrike kampvegter vir die regte van die Voortrekkers en het by die vroue deputasie se konfrontasie met adv. Henry Cloete, Britse Kommissaris in Natal, gesê dat hulle eerder kaalvoet oor die Drakensberge sou terugkeer as om te kapituleer. Sedert 1839 het sy en haar man op Pietermaritzburg ‘n armoedige bestaan gevoer.

Haar dagboek bestaan uit boekies dubbel gevoude foliopapier in die middel met gare aanmekaar geheg, en dek die jare 1842-58. Sy het haar sieklike man getrou versorg en is ‘n week voor hom oorlede. Sy was ‘n suster van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz.

No comments: