2008/07/26

26 Julie 1876 : Genl. Manie Maritz gebore


Salomon (manie) Gerhardus Maritz is op Kimberley gebore. Hy was ‘n polisieman in Johannesburg toe hy in Oktober 1899 saam met die Boksburg kommando na die oorlogsfront in Natal gegaan het. Hy het lid van Danie Theron se dapper Verkennerskorps geword. In Februarie 1901 gaan veg hy in die Kaapkolonie en word tot veggeneraal bevorder. Hy weier om die wapen met die vredesluiting op 31 Mei 1902 neer te lê en gaan deur Duits-Suidwes-Afrika na Europa. Later besoek hy Madagaskar en keer na Suid-Afrika terug. In 1914 moet hy as Rebelleleier noodgedwonge deur Angola na Portugal vlug. Uit Duitsland het hy na sy vaderland gekom, en in 1923 word hy tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis, maar is in 1924 vrygelaat. Hy sterf in ‘n motorongeluk op 19 Desember 1940. Sy outobiografie My lewe en strewe het in 1938 verskyn. Hy is in die Nuwe Kerkhof in Pretoria-Wes begrawe, waar ‘n granietrots met die inskripsie “Vat my hand dat ek kan opstaan vir my volk” op sy graf aangebring is.
dr. J.J. van Tonder

No comments: