2008/06/18

1949 : Junie 18 Geskiedenis Spoor Vandag: Op ons Taalakker


Prof. J.J. Smith oorlede
18 Junie 1949

Johannes Jacobus Smith, taalkundige en woordeboekmaker, is op 5 Oktober 1883 op ‘n boereplaas in die distrik Tulbagh gebore en op 66-jarige leeftyd op Stellenbosch oorlede. Sy eerste skoolopleiding het hy in ‘n plaasskooltjie in daardie distrik ontvang, tussen die jare 1891 en 1896. Daarna is hy na die openbare skool op Tulbagh en die Paarlse Gimnasium.

Van 1900 tot 1905 het hy aan die Victoriakollege op Stellenbosch gestudeer. Hier het hy ‘n BA-graad met onderskeiding in moderne tale verwerf. Weens sy besondere bekwaamheid, is aan hom die Hiddingh-beurs toegeken. Waarmee hy eers aan die Inner Temple, Londen, in die regte en later aan die Universiteit van Londen in moderne tale gestudeer het.

Hy het tot 1914 in die buiteland gebly. Op Stellenbosch het hy in 1914 die professoraat in Duitse en Frans aanvaar. In 1919 het hy die tweede professoraat in Afrikaans aanvaar aan die Universiteit van Stellenbosch.

Van die vroegste tyd of het prof. Smith aan die Afrikaanse taalstryd deelgeneem. Dadelik na sy terugkeer op Stellenbosch het prof. Smith saam met dr. B.B. Keet en dr. Tobie Muller in die voorste linie getree vir Afrikaans, Saam met Gordon Tomlinson, het hy in 1914 Ons Moedertaal uitgegee, wat later oorgegaan het in Die Huisgenoot, waarvan prof. Smith redakteur was van 1917 tot 1924.

In Londen het hy kennis gemaak met C. Louis Leipoldt, wie se eerste bundel gedigte Oom Gert Vertel hy in 1911 persklaar gemaak en uitgegee het. In 1926 het prof. Smith die reusetaak onderneem om die Woordeboek van die Afrikaanse Taal op te stel, en hy het voltyds daaraan gewerk tot 1943 toe hy weens swak gesondheid die redakteurskap neergelê het.

Prof. Smith het die grondslae vir die woordeboek gelê en ‘n ontsaglike hoeveelheid materiaal versamel. In die verwerking van hierdie materiaal het hy egter die slagoffer van sy strewe na volmaaktheid geword. Nooit tevrede met sy eie werk nie, het hy steeds opnuut aangevul en gewysig. Hy was van die begin af ‘n vooraanstaande lid van die Taalkommissie van die Akademie vir Taal, Lettere en Kuns en het aanvanklik ‘n groot aandeel gehad in die opstel van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Daar het ‘n hele reeks skitterende artikels van hom in Die Suiderstem en Die Brandwag verskyn. Na sy dood is hulle gebundel deur sy dogter, dr. Anna Smith, onder die titel Op ons Taalakker (1962). Prof. dr. P.J. Nienaber

No comments: