2008/06/25

1905 : Junie 25 Geskiedenis Spoor Vandag: “Ster van Afrika”


Cullinan diamant ontdek
25 Junie 1905


Die Cullinan diamant, die grootste diamant wat nog ooit gevind is, is deur Frederick Wells, ‘n amptenaar van die Premier-Diamantmaatskappy ontdek. Hy het ‘n beloning van £2 000 gekry vir sy vonds, wat 3 025 karaat geweeg het, 11 cm by 6 cm by 5 cm. Dit is genoem na sir Thomas Major Cullinan, stigter en voorsitter van die maatskappy. Na veel oorweging is die steen deur die eienaars van die myn aan die Transvaalse regering vir ‘n bedrag van £125 000 verkoop, waarvan 60% in elk geval aan die staat betaal moes word. Op voorstel van genl. Louis Botha, Eerste Minister van Transvaal, is besluit om die diamant aan koning Edward VII van Engeland te skenk, ter herinnering aan die toekenning van selfbestuur aan die voormalige kolonie. Op 7 November 1907 is hierdie idee deur sir Richard Solomon in Londen ten uitvoer gebring. Die verantwoordelikheid om hierdie steen met sy gladde kloofvlak te kloof en poleer is aan die firma Asscher-Broers in Amsterdam opgedra, waar dit in nege groot en 96 kleiner diamante verdeel is, waarvan die grootste (Cullinan I in die Koninklike Septer geset) 530,2 karaat weeg. Cullinan II, ‘n steen van 317,4 karaat, is in die Imperiale kroon geset. Hierdie blou-wit edelstene word in die Toring van Londen bewaar. Koning George V het Cullinan I die “Ster van Afrika” gedoop. Dit is een van die wêreld se bekendste stene. Die hoogstaande gehalte van die Cullinan-diamant word bevestig deur die feit dat Cullinan II derde op die wêreldranglys van diamante gereken word. aka fak P.G.N

No comments: