2008/06/25

1900 : Junie 25 Geskiedenis Spoor Vandag: Land van ons Vadere


I.D. du Plessis gebore
25 Junie 1900

Izak David du Plessis is op Philipstown in die Karoo gebore. Die natuur van hierdie streek het ‘n diep indruk op sy gemoed gemaak. Telkens kan ‘n mens die heimwee daarna hoor opklink in sy poësie. Sy vader was eers onderwyser, toe prokureur op Steynsburg en daarna regsadviseur van die Spoorweë in Kaapstad. I.D. du Plessis het sy eerste onderrig vanaf 1905 op Steynsburg ontvang. Van 1910 tot 1917 is hy na die Boys’ High School in Wynberg. Hy het nie Afrikaans op skool geleer nie. Hy het aanvanklik Engelse prosa geskryf en sy eerste letterkundige besieling veral van prof. John Clarke ontvang. Hy het van die begin af sterk onder die invloed van die Engelse letterkunde en kultuur gestaan. Du Plessis het aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer. Daarna is hy onderwyser en joernalis en lektor aan die Tegniese Kollege in Kaapstad. Later is hy lektor in Nederlands en Afrikaans aan sy alma mater. Sedert 1951 was hy ‘n tyd lank kommissaris vir Kleurling sake. Hy het heelwat gereis: in Europa, in Indonesië en na Suid-Amerika. Hy het, behalwe poësie, ook sketse en verhale geskryf, ligte ontspanningslektuur (sport verhale) en studies oor die kultuur van die Kaapse Maleier. Hy het ‘n groot aantal digbundels geskrywe, onder meer: Lied van Ali en ander gedigte (1931); In die Sabie (1932); Land van ons Vadere (1945); Die Sanger, die Bose en die Lied; ‘n Volksvers (1955). In 1937 verower hy die Hertzogprys vir poësie. I.D. du Plessis was ‘n oorgangsfiguur na die geslag van Dertig. Hy was dit veral deur die eerlike biegpoësie van sy bundel Stryd (1935). Na Stryd het hy onder die invloed van die jongeres gekom en het hy daarin geslaag om sy vers te verfyn aka fak G.S.N

No comments: