2008/06/23

1902 : Junie 23 Geskiedenis Spoor Vandag: Gedenksteen


Salmon van As gefusilleer
23 Junie 1902

Salmon Gerhardus van As is op 2 Mei 1878 gebore – sy geboorteplek is onseker – en op 23 Junie 1902, dus na die Vrede van Vereeniging, op Heidelberg, Transvaal, deur ‘n Britse krygshof laat teregstel nadat hy aan moord op kaptein Richard Miers op 25 September 1901 skuldig bevind is. Veldkornet Van As, ene Cilliers en ene Muller is van die vrywarings in die akte van oorgawe uitgesluit, omdat hulle elkeen by drie verskillende geleenthede drie ander mense in die engelse Oorlog om die lewe sou gebring het. Aan genl. P.R. Viljoen het Van As op die vooraand van sy teregstelling erken dat hy Miers onder gewone oorlogs omstandighede doodgeskiet het, maar nie vermeer het nie. Pogings deur ds. A.J. Louw en andere aangewend om Van As se lewe te red, het misluk. Aan sy ouers, familie en mej. Nelly Nortje het Van As vir oulaas afskeidsbriewe geskryf voor hy die Maandagmôre vroeg teen die tronkmuur laat staan en, op sy versoek nie geblinddoek nie, doodgeskiet is. Sy lyk is in ‘n kakiekombers toegedraai en in ‘n vlak graf langs die pad na die Heidelbergse kerkhof begrawe. Op 14 (17?) Oktober 1903 is ‘n besonder aandoenlik en groot herbegrafnis vir genl. C.J. Spruyt, kmdt. Kriegler en veldkornet Van As en vyf ander burgers op Heidelberg gehou. Genl. C.R. De Wet het ‘n bemoedigende toespraak gehou en die Afrikaner gemaan om sy kinders te laat studeer, ten einde die toekoms te verseker. Op 12 Maart 1938 is ‘n gedenksteen deur genl. C.H. Muller vir nege krygers van die Engelse Oorlog onthul, en ook Van As se naam verskyn op die monument. Aka fak M.J.S

2 comments:

Muriel said...

Jou blog is baie interresant!! Ek lees lekker hier!

RoosMaryn said...

Hallo Muriel. Ek wil jou graag 'n e-pos stuur?