2008/06/15

1886 : Junie 15 Geskiedenis Spoor Vandag: Geskiedenis


Prof. W. Blommaert gebore
15 Junie 1886


Willem Blommaert is in Sint Maria Hoorebeke, België gebore. Aan die Vlaams-georiënteerde Universiteit van Gent, het hy ‘n deeglike wetenskaplike opleiding in Geskiedenis gehad, veral onder die beroemde prof. Henri Pirenne. Op die leeftyd van 25 jaar word hy in 1911 professor in Geskiedenis aan die Victoria-kollege, later die Universiteit van Stellenbosch, waar hy van 1927 tot 1933 voorsitter van die senaat was. Op politieke en kulturele terrein het prof. Blommaert hom met die Afrikaner vereenselwig, iets wat vergemaklik is deur sy Vlaamse agtergrond en ook deur sy eggenote, Anna l’Hermite, wat van huis uit Franse Protestant (Hugenoot) was. Blommaert was wetenskaplike van hoë gehalte; saaklik objektief en kalm van gees, en het die eis gestel dat die historikus vir sy navorsing eers en veral na die ou stukke in die argiewe moet gaan. Hy het dit self ook gedoen, soos bewys word veral deur sy bydrae om die egtheid van die Retief-Dingaan-Traktaat, wat deur sir George Cory in twyfel getrek was, te bewys. In verband met die geskiedenis navorsing, geskiedskrywing en geskiedenisonderwys, is Suid-Afrika – met name die Afrikaner – aan hom veel verskuldig. Hy is op 18 Oktober 1934 op Stellenbosch oorlede. aka fak H.B.T

No comments: