2008/06/10

1872 : Junie 10 Geskiedenis Spoor Vandag: Rebellie


Genl. J.C.G. Kemp gebore
10 Junie 1872


Jan Christoffel Greyling Kemp, gebore in die Amersfoort distrik , het sy opvoeding aan die Staats gimnasium in Pretoria ontvang en het daarna onder meer in die kantoor van die mynkommissaris op Krugersdorp gewerk. Hy het aan die Magato-oorlog (1895) en die krygsverrigtinge met die Jameson-inval (1895 tot 1896) deelgeneem. In die Engelse Oorlog het hy as lid van die Krugersdorpse kommando aan die eerste gevegte in Natal deelgeneem en is hy in Junie 1900 in Noord-Transvaal tot kommandant verkies. In Februarie 1901 is hy as veggeneraal aangestel, en in die hoedanigheid het hy sy bekwaamheid en waaghalsigheid getoon in gevegte soos die by Moedwil (30 September 1901) en Ysterspruit (25 Februarie 1902). Met die vredesonderhandelinge op Vereeniging, was hy een van die ses afgevaardigdes wat teen die vredesvoorwaardes gestem het. In 1912 het genl. J.C. Smuts hom oorreed om hom by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag aan te sluit, maar op 13 September 1914 het hy sy offisiersrang neergelê uit protes teen die Botha-regering se oorlogsbeleid en aktief aan die Rebellie (1914 – 1915) deelgeneem. Sy grootste militêre prestasie was waarskynlik sy heldetog deur die Kalahari in hierdie tyd. Na aanvanklike militêre welslae, was hy verplig om hom op 2 Februarie 1915 aan die regeringstroepe oor te gee. Na ‘n periode van tronkstraf, is hy op 22 November 1916 vrygelaat. Nadat hy lid geword het van die Nasionale Party, is hy in 1920 tot Volksraadlid vir Wolmaransstad verkies; hy het hierdie kiesafdeling tot sy dood verteenwoordig. Van 1924 tot 1934 was hy Minister van Landbou en het hy ook met die nood van ekonomiese depressie te kampe gehad. Hy het genl. J.B.M. Hertzog by die samesmelting met die Suid-Afrikaanse Party gesteun en daarna Minister van Lande geword, maar in 1936 en 1938 tydelik as Minister van Verdediging waargeneem. In die hoedanigheid het hy op 15 Desember 1938 tydens die Voortrekker eeufeesviering aangekondig dat Robertshoogte voortaan as Voortrekkerhoogte sou bekend staan. In die Tweede Wêreldoorlog het Kemp genl. Hertzog se neutraliteit voorstel gesteun en hom daarna by die Herenigde Nasionale Party aangesluit en medeleier van die party in Transvaal geword. Kemp is op 31 Desember 1946 op Piet Retief oorlede. Hy was ‘n dapper en vasberade man wat vurig aan ‘n republikeinse regeringsvorm vir Suid-Afrika geglo het. aka fak C.M.B

No comments: