2008/05/15

1919 : Mei 15 Geskiedenis Spoor Vandag : Koopmans-De Wet-huis


Mei 15
1919
J.H.M. Beck oorlede


Johannes Hendricus Meiring Beck, in later jare ‘n bekende Kaapse politikus, minister van die Unie, komponis en uiters bekw3ame geneesheer, is op 28 November 1855 in Worcester gebore. Hy het ‘n wye belangstelling gehad. As geneesheer het hy etlike belangrike geneeskundige bydraes gelewer. Hy was ‘n groot musiekliefhebber en het ook intens in onderwysaangeleenthede belang gestel, veral nadat hy in 1898 tot lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering verkies is. Sy groot belangstelling het egter gelê in die fauna en flora, en in die besonder die kultuur van die Kaap. Hierdie belangstelling kom duidelik na vore in die tyd toe hy voorsitter van die Nasionale Vereniging vir die Bewaring van Voorwerpe van Skoonheid en van Geskiedkundige Belang was. Hy beywer hom vir die bewaring van verskillende historiese besienswaardighede en geboue. Een daarvan was die beroemde Koopmans-De Wet-huis, wat van 1806 tot 1911 deur die De Wet-familie bewoon is. Met die heengaan van Maria Koopmans-De Wet in 1906 en haar suster in 1911, het Beck gevoel dat die huis met sy kosbare erf skat “wat die beste tradisie van die verlede beliggaam”, as ‘n nasionale monument behou moet word. Hierdie ideaal is gelukkig – met publieke en staatshulp – verwesenlik. P.J.d.B

No comments: