2008/05/11

1909 : Mei 11 Geskiedenis Spoor Vandag : “Konsep-Suid-Afrika-Wet”


Mei 11
1909
SA-Wet onderteken


Die konsep-Suid-Afrika-Wet is op hierdie datum deur die onderskeie afgevaardigdes geteken, maar die debat oor die inhoud van die wet het voor en na hierdie dag ernstige afmetings aangeneem. Die Transvaalse en die Vrystaatse parlement het dit onderskeidelik eenparig bekragtig. In Kaapland is dit met twee teenstemme goedgekeur. Natal het eers ‘n referendum daaroor gehou. Van die 58% kiesers wat wel gestem het, het 66% daarvoor en 33% daarteen gestem. Kleurlinge en swartes het byeenkomste teen die wet gereël en onder W.P. Schreiner tevergeefs in Londen beswaar gemaak. Koning Edward VII het dit op 20 September 1909 onderteken. Die kleur beklemtoning van die wet was die rede vir die onaanneemlikheid in bepaalde kringe. Maar ekonomiese, blanke, spoorweg- en eenheid sake het swaarder geweeg, sodat unifikasie, hoewel met federale eienskappe, van die vierledige Suid-Afrika deurgevoer is. Baie Afrikanerleiers wou deur hierdie staatkundige eenheid veral die Afrikanervolk landwyd saamsnoer, ten einde sy slaankrag te verhoog. Die erkenning en verskansing van Hollands as taal was ‘n groot faktor in hierdie verband. Die Suid-Afrika-Wet het verder die provinsiale stelsel onderskryf en vir 121 Volksraadslede, van wie tien ministers sou wees, voorsiening gemaak. Die wetgewende mag was in die hande van die Goewerneur-generaal (Gladstone van Brittanje), die Senaat en Volksraad gesetel. Louis Botha is later deur hom as premier aangewys bo John X. Merriman, en hy het sy ministers uit die regerende partye van die vier gebiede aangestel. Sir Henry de Villiers was die eerste hoofregter. ‘n Eerste algemene verkiesing is eers na 31 Mei 1910 gehou, nadat die Unie-kabinet begin funksioneer het. Die Britse hoë kommissaris gebiede – Betsjoeanaland, Swaziland en Basoetoland – sou volgens algemene opvatting spoedig tot die Unie gevoeg word, en voorwaardes vir hulle toekomstige regerings is as bylae van die Suid-Afrika-Wet opgeneem; dis ‘n gedagte wat totaal anders verloop het. aka fak M.J.S

No comments: