Die Vrede van Vereniging
31 Mei 1902
Saterdagaand, tussen elf- en twaalfuur van die 31ste Mei 1902, is in Pretoria deur die volksverteenwoordigers van die Republieke, wat die stryd teen die magtige Britse Ryk meer as een-en-dertig maande volgehou het, die vredestraktaat van Vereeniging onderteken. Nadat Kitchener van Khartoem en Milner hul naam ook onderaan die “Akte van Vrede” geskryf het, was die ongelyke stryd beëindig en het vir die volksleiers, wat besluit het om gesamentlik die wapens neer te lê, die bittere taak gewag om die burgers in kennis te stel dat hulle die wapens moes neerlê.
Die voorspel tot hierdie vrede het op 9 April 1902 op Klerksdorp begin. Daar het die Transvaalse en die Vrystaatse regering drie dae met mekaar beraadslaag, alvorens hul afgevaardigdes na Pretoria stuur. Die onderhandelinge met die Britse owerheid in Pretoria het van 12 tot 17 April geduur, en daar is besluit dat die volk geraadpleeg moes word, omdat Engeland sonder prysgewing van die Republieke se onafhanklikheid geen vrede wou maak nie.
Nadat die burgers te velde sestig manne afgevaardig het om hulle te verteenwoordig, is die onderhandelinge op Donderdag, 15 Mei op Vereeniging hervat. Die voorstelle van hierdie vergadering is op 19 Mei aan Milner en Kitchener voorgelê, dog van die hand gewys. Teenvoorstelle is gedoen en op 29 Mei aan die Boere-afgevaardigdes voorgelê. Hulle moes binne drie dae met “ja” of “nee” antwoord. Op Vereeniging is die volksverteenwoordigers nou voor die keuse gestel om die oorlog voort te sit, die wapens onvoorwaardelik neer te lê of die Britse voorwaardes aan te neem.
Verset teen die aanname van die Britse voorwaardes het veral onder die afgevaardigdes van die Vrystaat geleef, en ook party van die Transvalers was oortuig dat die oorlog, van militêre standpunt beskou, nog nie verlore was nie. Die president van die Oranje-Vrystaat, Marthinus Theunis Steyn, wat al die ontberinge van die oorlog met die burgers in die veld gedeel het, het die besprekings van die laaste drie dae nie meer bygewoon nie, aangesien ‘n volslae verlamming sy kragtige gestel aangetas het. Op 29 Mei het hy sy amp neergelê en is die bittere sielestryd van die eindbeslissing hom bespaar. Genl. Christiaan de Wet is in sy plek tot president benoem.
Die feite wat die volksverteenwoordigers onder die oë moes sien, was die meedoënlose krygstaktiek van Engeland, wat alle middele van bestaan vernietig het, en die sterfte van vroue en kinders in die kampe, wat gedurende die afgelope ses maande wel afgeneem het, maar tog nog skrikbarend hoog was. Die bewapening van inboorlingstamme binne en buite die grense het verder ‘n onhoudbare toestand geskep, en baie was van mening dat hongersnood voor die deur gestaan het. Slegs die oortuiging dat die voortbestaan van die volk op die spel gestaan het, het manne soos genl. De Wet beweeg om die Britse voorwaardes aan te neem. Vir hom het die duidelik geword dat God die Afrikaners deur die oorlog tot een volk wou vorm en dat die volk as ‘n verenigde en nie as ‘n verskeurde en verdeelde volk uit die stryd te voorskyn moes tree nie. Dit was vir hom en sy dappere medestryders ‘n geloofsaak – die vrede ‘n geloofsdaad, wat getuig van meer moed en ‘n kragtiger geloofslewe as wat vereis word vir die heldedade op die slagveld.
No comments:
Post a Comment