2008/05/31

1935 : Mei 31 Geskiedenis Spoor Vandag: Suid-Afrikaners word Afrikaners


Na 25 Jaar : 1910 - 1935
31 Mei 1935


Hoewel op 31 Mei vanjaar die kwarteeufees van die Unie se bestaan nie amptelik gevier is nie, het ons tog die heuglike dag herdenk. In byna elke koerant en tydskrif het ‘n terugblik oor die vyf-en-twintig jaar verskyn, terwyl ons ook ‘n aarselende blik in die toekoms gewerp het. Genl. J.C. Smuts het in Die Huisgenoot die gedagte uitgespreek dat die Unie van Suid-Afrika in die toekoms die kern van ‘n “federasie van Brits-Afrika ten suide van die ewenaar” sal word en het sy artikel beëindig met die woorde: “Ons geskiedenis van die begin af is ‘n trek na die noorde. Niks sal paal of perk stel aan hierdie groter trek wat nog voor ons lê en wat miskien nog een van die belangrikste en interessantste politieke eksperimente in die wêreldgeskiedenis gaan word nie. Met profetiese blik het die voorgeslag uit die benaming van Afrikaners die voorvoegsel “Suid” uitgelaat! Mag die groter trek ewe suksesvol wees as wat dit tot hiertoe gewees het!” Wat in die toekoms lê, weet niemand: maar op wat agter lê, kan ons met dankbaarheid terugsien. Die werk van die Nasionale Konvensie het ryke vrugte afgewerp. Op stoflike gebied het ons, ten spyte van industriële onrus, vorentoe gebeur. Die landbou en die mynbedryf het ontsaglik ontwikkel en die uitvoer van wol, bokhaar, huide en velle en mielies het aansienlik toegeneem. Die uitvoer van volstruisvere, wat tydens die ontstaan van die Unie na wol ons grootste uitvoerartikel was, het na 1914 baie verminder, maar die getal beeste het toegeneem en ook in die opbrengs van koring en suiker is ‘n stygende lyn te bespeur. Tydens die Wêreldoorlog is oral nuwe fabrieke opgerig. Terwyl Suid-Afrika voorheen net velskoene met die hand gemaak het, word nou in ons fabrieke dameskoene vervaardig wat met die oorsese mode-artikel kan wedywer. Ook het na die stigting van die K.W.V. ons wynbedryf vooruitgegaan en verower ons wyne weer die wêreldnaam wat hulle eenmaal in die dae van die Van der Stels en daarna gehad het. Tewens is ‘n begin gemaak met die verwerking van ons eie yster tot staal.

Die welvaart weerspieël hom ook in die kulturele lewe van die volk. Die aantal kinders in die skole, vir blankes sowel as nie blankes, het aansienlik toegeneem. Vier universiteite het gedurende die afgelope kwarteeu hul volle onafhanklike status verwerf; Kaapstad en Stellenbosch in 1916, die Witwatersrand in 1922 en Pretoria in 1930. Die opbloei van ‘n eie Afrikaanse letterkunde ht die verwagtinge van selfs die mees optimistiese voorvegters oortref. Gelyke taalregte is na ‘n taai stryd vir Afrikaans verwerf in skool en kerk en staatsdiens. Die bekende liedjie wat in die begin van die eeu so weemoedig geklink het, kan ons nou as die vervulling van ‘n profesie en as belofte van nog groter prestasie beskou:

Môre pluk ons blomme – môre,
As die reën en die mis eers oor is,
As die modder opgedroog is,
As die son ons toelag – môre!

No comments: