2008/05/31

1902 : Mei 31 Geskiedenis Spoor Vandag : Ontwikkelings-fasette tot Republiekwording


31 Mei 1902
Vrede van Vereeniging:

Hoofsaaklik as gevolg van die Britse beleid van verskroeide aarde teen die Boere in die Engelse Oorlog van 1899 – 1902, het die Afrikaner tot onderhandeling met Engeland ingestem. Op 15 Mei 1902 het dertig Vrystaters en dertig Transvalers onder genl.. Beyers as voorsitter by Vereeniging die kwessie van oorgawe bespreek. Eenstemmigheid het uitgebly, maar op hierdie Saterdag in 1902 is besef dat die vernietiging van Boere-eiendom en die moord op vrouens en kinders die land en volk sal breek. Daarom is onvoorwaardelik oorgegee – 54 daarvoor en ses daarteen. In George Heys se Melrose-woning in Pretoria is Smuts en Hertzog se oorgawe-dokument die aand aan Milner en Kitchener oorhandig. Om 23h05 is dit onderteken. Die Boererepublieke was daarmee heen, maar die Afrikanervolk het bly leef en droom. Hy het polities sodanig na vore gekom dat hy die veertig jaar oue Londense ideaal van ‘n verenigde Suid-Afrika in die Konvensie-dae van 1908/1909 sterk beïnvloed het. Die Uniewording op hierdie dag in 1910 het gevolglik ‘n Suid-Afrikaanse beslag gehad. Die vier aparte gebiede is as provinsies van ‘n uniale owerheid saamgevoeg, en die Afrikaner se taal- en ander ideale wetlik bevestig, erken en verskans. Vreugdefeeste is landwyd gevier, en hoë ideale is gekoester. Politieke samewerking tussen die twee blanke kultuurgroepe was die wag woord. Maar eers in 1928 is die Unie se eie vlag op hierdie dag in Kaapstad na veel rusie en baie voorstelle amptelik laat wapper – saam met die Union Jack, die vlag van Brittanje, die soewereine heerser. In 1938, die Eeufees jaar van die Voortrekkers, is slegs die Unievlag op hierdie dag en daarna amptelik byvoorbeeld by militêre parades gehys en nie die Union Jack nie. Premier Hertzog het beweer dat die Britse vlag slegs op ons statebond-verbintenis gedui het en net by sekere sodanige geleenthede gehys hoef te word. Soortgelyk is ook Die Stem alleen by amptelike funksies gespeel, omdat God save the King bloot ‘n gebed vir die Britse koning van Suid-Afrika was. Die eie vlag en volkslied het dan van 1938 ‘n eie nasionale gevoel uitgedruk. Heelwat politieke onrustigheid het hieruit gevolg. In 1957 is daar egter deur eenparige parlementêre wetgewing bepaal dat Die Stem en die Unievlag ons enigste nasionale simbole van hierdie aard is. Van 31 Mei af het die gebruik gegeld en is God save the Queen en die Union Jack nie meer amptelik gebruik nie. In 1960 weer is wel landwyd feesgevier om die vyftigjarige bestaan van Unie te herdenk, maar dit was grootliks kunsmatig. Dieselfde jaar nog is per volkstemming tot ‘n republiek besluit, en op hierdie dag in 1961 is die Republiek van Suid-Afrika gebore. Oral is programme aangebied, maar die hoogtepunt was op Kerkplein, Pretoria. Hier is C.R. Swart as eerste Staatspresident in die Bosmanstraat kerkgebou beëdig. Soos in 1910 en 1960 is verskeie gedenkstukke gepubliseer en vervaardig. Veterane van 1900 se jare het met trane in die oë gejuig, want ‘n Afrikaner droom het in vervulling gegaan. In 1966 is ‘n omvangryke vyfjaar fees gevier. Veral die militêre vertoning in Pretoria was indrukwekkend en simbool van die tydsgees. In 1971 is in Kaapstad die tienjarige bestaan van die RSA met groot aanbiedinge van algemene kulturele aard aangebied. Hierdie datum dag is voorwaar onherroepelik deel van ons geskiedenis. Prof. Dr. M.J. Swart

No comments: