2008/05/17

1901 : Mei 17 Geskiedenis Spoor Vandag : Stille waardigheid


Mei 17
1901
Mev. E. (Betsie) Verwoerd gebore


Elizabeth (gebore Schoombee) Verwoerd is op Middelburg (Kaap) gebore. Aan die Universiteit van Stellenbosch, waar sy die graad MA in Afrikaans verwerf het, het sy dr. H.F. Verwoerd leer ken, met wie sy in 1927 getroud is. Ondanks haar huislike pligte as moeder van ‘n groot gesin, het sy tyd gevind om haar man in sy politieke loopbaan by te staan, veral in verkiesingstye. Sy was ook lid van die Vroueraad van die Nasionale Party in Johannesburg. Na dr. Verwoerd se verkiesing tot Eerste Minister in 1958 het sy hom op sy reise deur die land vergesel en kon sy saam met hom die heuglike Republiekwording op 31 Mei 1961 beleef – die hoogtepunt van ‘n veelbewoë lewe. Na die moord op dr. Verwoerd op 6 September 1966, wat vir haar ‘n ontsettende skok was, het sy dapperheid aan die dag gelê wat by alle lae van die Suid-Afrikaanse bevolking bewondering afgedwing het. Kalm en bedagsaam het sy gebly, terwyl die hele Suid-Afrika saam met haar gerou het. ‘n Voorbeeld het sy aan die volk gestel, waaroor die Cape Times onder meer geskryf het: “Die stille waardigheid van mev. Betsie Verwoerd was miskien die treffendste van alle huldeblyke.”

No comments: