2008/04/01

1900 : 1 April Geskiedenis Spore van : De Wet se Nuwe Veg Taktiek Sannaspos

1900
Gryse President Besoek Die Front
De Wet se Nuwe Veg taktiek word op die Proef Gestel
Sannaspos


Nadat Bloemfontein verower is, het generaal De Wet sy manne verlof gegee om tot 25 Maart huis toe te gaan. Self het hy by Kroonstad, wat nou die setel van die nuwe Regering is, ‘n krygsraad vergadering gaan bywoon. Daar was behalwe president Steyn, ook president Kruger, lede van die Republikeinse Regerings, genls. Joubert, De la Rey en ander. Almal weet nou dat hul vredesvoorstel van 5 Maart aan lord Salisbury van die hand gewys is, maar aan oorgawe dink niemand nie. President Steyn het almal se gevoelens vertolk toe hy gesê het: “Ons veg nie vir die behoud van ons stede nie, maar vir die behoud van ons vryheid.”

‘n Nuwe krygstaktiek is aanvaar: die groot wa-laers is afgeskaf en slegs perde kommando’s sal nou in die stryd gebruik word. Die Vrystaatse artillerie is gereorganiseer onder bevel van regter J.B.M. Hertzog. Die Franse kolonel De Villebois-Mareuil sal die buitelandse Vrywilligerskorps aanvoer. Groot is ook die bewondering van die burgers vir die gryse staatspresident van die Suid-Afrikaanse Republiek wat sy burgers aan die fronte in Natal en die Vrystaat op die slagveld kom toespreek het. Die vasberadenheid van die volksmanne en leiers vervul almal met nuwe krag.

Gister is die nuwe krygstaktiek hier by die waterwerke van Sannaspos op die proef gestel toe generaal De Wet ‘n Engelse mag van 1,800 man aangeval, 480 van hulle gevange geneem en 500 gedood en gewond het. Nadat hy die bevel oorgedra het aan sy broer Piet en genl. Andries Cronje, is generaal De Wet gisteraand onmiddellik verder op ‘n verkenningstog met drie van sy staflede.

In die buiteland is al hierdie gebeurtenisse met spanning gevolg, maar hoewel oral geesdrif vir die Boeresaak heers, het slegs die twintigjarige Koningin van die Nederlande die moed gehad om daadwerklike hulp te verleen deur die Nederlandse oorlogsbodem H.M. Gelderland te stuur om president Kruger na Europa te vervoer. Die seereis het van 20 Oktober tot 22 November geduur.

Die Franse volk het die gryse President met gejuig ontvang toe hy by Marseilles aan land gegaan het, maar hoewel die President van Frankryk hom in Parys nie minder hartlik ontvang het nie, moes hy spoedig van die Minister van Buitelandse Sake verneem dat daar van Frankryk geen hulp te wagte is nie.

Daarvandaan sou president Kruger na Berlyn reis. Toe hy in Keulen aankom, het die bevolking hom wel met stormagtige geesdrif begroet, maar die Keiser het laat weet dat hy hom nie kan ontvang nie en dat hy ook bly sal wees as die President van sy voorneme om Berlyn te besoek wil afsien. Gevolglik het die President oor Arnhem en Utrecht na Den Haag vertrek waar hy vandag met hartstogtelike geesdrif deur ‘n diepbewoë skare ontvang is. Hy sal môre deur Koningin Wilhelmina in bysyn van die Koningin-moeder op oudiënsie ontvang word.