2008/04/06

1847 : 6 April : Geskiedenis Spoor Vandag : Die Oorlog van Die Byl



1847
Grensoorlog Eis Baie Slagoffers


Die Oorlog van die Byl het gedurende die afgelope twaalf maande met onverminderde krag gewoed en reeds baie slagoffers geëis. Dertienduisend man is in die veld en meer troepe word nog steeds aangevoer. Honderde plase is weer verwoes en duisende mense is dakloos. Die dorpie Riebeek-Oos is deur sy inwoners verlaat; die dorpsbewoners het al hul besittings verloor, die boere al hul vee en in die meeste gevalle ook hul hawe en goed.

Die verre gaande roofsug en waaghalsigheid van die Kaffers word toegeskryf aan die gebeurtenisse wat aan die begin van die oorlog plaasgevind het. Toe die vyand daarin geslaag het om die kolonel Henry Somerset by Burnshill te verras. Hulle het toe verskeie van sy mense gedood, tussen die agt- en negehonderd osse en een-en-sestig waens gebuit. Die goewerneur, sir Peregrine Maitland, het dadelik krygswet uitgeroep en die burgers opgekommandeer om te kom help. Meer troepe is na die grense gestuur as ooit tevore. Die gebou wat die sendelinge by Lovedale gebou het, was ‘n tyd lank die enigste plek wat die blankes behou het. Eers in Augustus was hulle in staat om teen Kreli uit te trek. ‘n Aantal lede van Patrollies wat uitgestuur is, is vermoor.

Toe die omvang van die ramp in Engeland bekend geword het, is besluit om sir Pegegrine Maitland terug te roep, aangesien hy as te oud beskou is om die vermoeienis van die leiding op hom te neem. Die nuwe goewerneur, sir Henry Pottinger, is ‘n Ier wat reeds in sy veertiende jaar by die Engelse Oos-Indiese Kompanjie in diens getree het. Die grootste deel van sy lewe het hy in die Ooste deurgebring en eers as soldaat en later as diplomaat goeie diens gelewer. Hy is die eerste goewerneur wat behalwe as goewerneur, ook aangestel is as Hoë Kommissaris met mag om sy gesag ook buitekant die grense van die Kaap-Kolonie uit te oefen.

Toe sir Henry Pottinger op 27 Januarie vanjaar die bewind oorgeneem het, het hy dadelik sy volle aandag aan die grensoorlog gewy. Hy stem saam met sir Peregrine Maitland dat die nuwe grens van die Kolonie na die Keiskamma- en Tyhumieriviere verskuif moet word. Albei meen ook dat die gebied tussen die Keiskamma en die Kei as Brits-Kafferland by die Kolonie ingelyf moet word. Verder verskil hulle beleid in alle opsigte. Sir Henry Pottinger wat op 28 Februarie in Grahamstad aangekom het, meen dat die gesag van die Kaffer kapteins erken moet word. Hy het die burgers weer uitgeroep op kommandodiens en besluit om militêre voorposte langs die Buffelsrivier te stig. Drie dae gelede is een van sy patrollies langs die rivier aangeval en is twee burgers vermoor. Verder het die nuwe goewerneur weer krygswet uitgeroep en is ‘n proklamasie uitgevaardig om alle handel tussen die Bantoe en die blankes te verbied. Handelaars wat betrap word dat hulle wapens aan hulle verkoop, sal met die dood gestraf word.

No comments: