2008/04/01

1 April 2008

Dis 1 April 2008

Gewoonlik is daar iemand wat dit regkry om my altyd vir die gek te hou, en dan kry ek dit mos reg om myself lekker hard met ‘n plank te slaan. Gaan ek dit vandag toelaat dat dit met my gebeur . . . ek wonder . . . (maar ek hoop nie so nie) mag ek lekker op en wakker wees, en al die April streke op ‘n myl sien aankom.

Intussen kry ek dit toe so mooi reg dat ek my eie “blog” nie eers kan oopmaak nie. Na ‘n groot gesukkel is ek darem aan die gang maar einde niet . . . “waar is die poste wat ek maak dan heen?” Ek soek en soek, maar dit is eenvoudig skoonveld weg en huil maar so tussendeur op manlief se skouer. Skryf hy van die werk af toe mooi vir … my ag wat jong, probeer maar weer, hoe erg kan dit nou wees? Laat my toe mos nou wonder of hy nie altemit iets hiermee te doen het nie, maar ek sê liewer niks want netnou is ek dalkies net besig om ‘n April op myself te trek.

Vriendin maak die voorstel en sê “Los alles vir vandag net so en gaan weer môre aan” asof ek dit nou sal kan regkry.

En so kom alles om my tot ‘n stilstand want die ding is nie my baas nie en ek sal hom wys, maak nie saak hoe nie, maar gedoen sal dit gedoen word. Een vir een, die hele dag lank. Geen maklike manier vir my nie, maar nou ja daaraan is ek gewoond, sukkel is mos so lekker dat ons dit selfs gaan koop, en wie het gesê die lewe is elke dag lekker en regverdig?