2008/03/31

Maart 31 Vandag in die Geskiedenis 1856, 1881, 1900, 1933, 1965 Today in History March 31



1856
P. van den Burg gebore


Petrus van den Burg was sedert 1884 orrelis van die Gereformeerde Kerk in Pretoria. In 1888 word ‘n musiekvereniging opgerig met Van den Burg as direkteur. Hy open ‘n klavier- en orrel-saak in Mark straat. As leidraad vir die onderwysers in die ZAR skryf hy in 1894: Beknopt Overzicht der Kerktoonaarden. Later komponeer hy liedere vir Afrikaanse tekste. Van den burg was ‘n stimulerende figuur in die musieklewe aan die einde van die vorige eeu. Aka fak P.G.N

1881
Prof. dr. G.B.A. Gerdener gebore

Gustaf Bernhard Augustus Gerdener was die seun van ‘n Rynse sendeling wat na Suid-Afrika gekom het. Hy studeer op Stellenbosch en gaan daarna na die Universiteit van Tübingen, waar hy in die teologie promoveer. Na sy terugkoms in Suid-Afrika het hy as ‘n veelsydige geleerde uitgeblink. Van 1913 tot 1917 het hy sendingwerk onder die Moslems in die Kaap gedoen. Van 1917 tot 1920 was hy predikant op Stellenbosch. Van 1933 tot 1937 was hy dosent aan die Sending instituut op Wellington, en van 1937 tot 1955 met sy aftrede, was hy professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Hy het hoofsaaklik in twee rigtinge belangrike wetenskaplike werk gedoen. Eerstens het hy pionierswerk gedoen in die vaderlandse kerkgeskiedenis. Dit het in 1925 begin met ‘n biografie oor die Voortrekker Sarel Cilliers. Dit is in 1934 opgevolg met ‘n geskiedenis van die NG Kerke in die Transgariep (d.w.s. noord van die Oranjerivier). In 1950 het hy ‘n omvangryke werk oor boustowwe vir die kerkgeskiedenis gepubliseer, wat ‘n beeld gee van sy indringende arbei in argiewe. Tweedens, het hy gewerk aan die Sending geskiedenis. Dit het uitgeloop op ‘n werk Recent Developments in the South African Mission Field (1958), waarin hy hom aansluit by die Sending geskiedenis van prof. J. du Plessis en dit uitbou tot ongeveer 1957. Vir sy reusebydrae op hierdie gebiede het hy die Stalsprys vir Teologie van die SA Akademie ontvang en ook die D.F. Malan-medalje. Hy het sy kerk by verskeie geleenthede in die buiteland verteenwoordig. Hy was ook ‘n stigterslid van SABRA en baie jare in die hoofbestuur. Hy is op 15 Augustus 1967 op Stellenbosch oorlede. Aka fak F.C.F

1900
Oorwinning by Sannaspos


Na die verowering van Bloemfontein het lord Roberts ‘n Britse mag onder bevel van genl.. R.G. Broadwood in die rigting van Thaba Nchu gestuur. Omdat hierdie kolonne die gevaar geloop het om afgesny te word, het Broadwood besluit om na Bloemfontein terug te keer. Intussen het genl. C.R. de Wet met minder as 400 burgers tussen Broadwood en Bloemfontein in die Koringspruit posisie ingeneem, terwyl die res van sy burgers Broadwood se kolonne met kanonvuur sou bestook om hulle in die rigting van Koringspruit te dryf. De Wet se plan het geslaag. Daar is op een na die ander van die vyand se waens beslag gelê; 200 voetsoldate is gevang, en ook die bemanning van ‘n battery van vyf kanonne. Uiteindelik het die res an die Britse kolonne onraad bemerk en was die burgers genoodsaak om te begin skiet. Intussen het die res van De Wet se mag ook op die toneel verskyn. Die geveg wat daarop gevolg het, was ‘n gevoelige nederlaag vir Broadwood, want hy het omtrent ‘n derde van sy mag van 1 800 man verloor. As gevolg van sy deursig en aanleg vir verrassings-aanvalle het genl. De Wet vir Broadwood op meesterlike wyse uitoorlê.
Aka fak C.M.B

Genls. Hertzog en Smuts Werk Saam
Koalisie-Kabinet Na Verkiesing
Kaapstad
31 Maart 1933

Na die Volksraadsverkiesing van 17 Maart, waarin die Nasionale Party 75, die Suid-Afrikaanse Party 61 en die Arbeiders van kol. Creswell 2 setels verower het, is ‘n koalisie-kabinet deur genl.. Hertzog saamgestel met homself as Eerste Minister en Minister van Buitelandse Sake, en genl. Smuts as adjunk-premier en Minister van Justisie. Die ander lede van die kabinet is ministers N.C. Havenga, Oswald Pirow, Piet Grobler, genl. Jan Kemp, en A.P.J. Fourie van die Nasionale Party, en adv. Patrick Duncan, kol. Deneys Reitz, J.H. Hofmeyer, C.F. Clarkson en R. Stuttaford van die S.A. Party.

Hierdie vir die volk onverwagte wending in ons politieke lewe is voorafgegaan deur ‘n reeks belangrike gebeurtenisse. Die Rykskonferensie wat verlede jaar van 21 Julie tot 20 Augustus in Ottawa sitting gehou het en waarna ministers Havenga, Grobler en Fourie, met die here Stuttaford en Heaton Nicholls as raadgewers, afgevaardig is om ons land te verteenwoordig, het reeds getoon dat ons regering bereid was om op ekonomiese gebied nouer met Engeland saam te werk. Daarna het die regering wat altyd verklaar het dat hy liewer sou ondergaan as om van goud af te stap, op 28 Desember geproklameer dat Suid-Afrika met sterling sou saamgaan, nadat oud-minister Tielman Roos as appèlregter afgetree en die krete aangehef het: “Weg met die goudstandaard!” en “Weg met rassehaat!”

Nadat dr. D.F. Malan, dr. N.J. van der Merwe en ander Nasionaliste hulle beslis teen genl. Hertzog se koalisie-planne uitgelaat het, het die Eerste Minister op 11 Februarie sewe beginsels en voorwaardes wat as die grondbeginsels van samewerking deur die S.A. Party aanvaar moet word, bekend gemaak. Dr. Malan, wat geweier het om in die koalisie-kabinet te dien, het op 28 Februarie ‘n verklaring aan Die Burger uitgereik, dat daar geen skeuring sal wees nie, tensy handelinge aan die kant van andere dit van die teenstanders van die koalisie afdwing. Tydens die eerste Sitting van die sewende Parlement, wat eersdaags vergader, sal moet blyk in hoe ver genl.. Hertzog in staat sal wees om die beginsels wat hy vasgelê het, in die praktyk te handhaaf.


1965
Universiteit van Port Elizabeth geopen


Die Universiteit van Port Elizabeth – landwyd bekend as die kampus by die see – is op 31 Maart 1965 amptelik in ‘n klompie geboue in die sentrale stadsdeel van Port Elizabeth geopen met 320 student, 10 Professore, 8 senior lektore en 7 lektore, en met prof. Ernst Marais as die eerste rektor. In 1970 is daar begin bou aan die nuwe kampus by Somerstrand langs die see, en in 1974 is die eerste geboue betrek. Dit is die enigste tweetalige universiteit in Suid-Afrika, en in elke Vakkomitee word die helfte van die kursusse in Afrikaans en die ander helfte in Engels aangebied. In die vroeër oorwegend, indien nie uitsluitlik Engelse hawestad nie, is dit ‘n besondere Afrikaanse deurbraak. FAK