2008/03/09

Maart 9

1816
Slagtersnek

Wat rondom Slagtersnek gebeur het, is as historiese feit in die geskiedenis van die Afrikanervolk as sodanig nie belangrik nie. Belangriker miskien is die agtergrond waarteen hierdie rebellie plaasgevind het en die invloed wat dit gehad het om die gevoel van nasionalisme en eenheid by die Afrikaner aan te wakker en te stimuleer. Die hooffigure in die rebellie van 1815 was Freek Bezuidenhout, sy broer Hans en die vyf tereggesteldes. Cornelis Frederik Bezuidenhout, wat as grensboer aan die Baviaansrivier gewoon het, is deur landdros A. Stockenström gedagvaar om op 5 Oktober 1815 voor die Rondgaande Hof op Graaf-Reinet te verskyn op ‘n aanklag wat teen hom ingebring is deur die Hottentot Booi. Hy daag nie by die hof op nie en word in sy afwesigheid tot een maand tronkstraf gevonnis oor minagting van die hof. Daarna is ‘n opdrag vir sy inhegtenisneming gegee. Luit. F. Rousseau, vergesel van die onderbalju, J. Londt, berede polisieman Gerrit Lemke, vaandrig William McKay en twaalf lede van die Kaapsche Regiment (‘n Hottentot regiment wat in die volksmond bekend gestaan het as Pandoere) word gestuur om Bezuidenhout, sy baster seun Hans en ene Jacob Erasmus na ‘n nabygeleë grot, en uiteindelik is Bezuidenhout dodelik getref deur ‘n koeël van sers. Joseph, ‘n Hottentot soldaat. Op sy begrafnis het sy broer, Johannes Jurgen (Hans), wraak gesweer ten die owerhede wat verantwoordelik was vir sy broer se dood. Hy en Hendrik Frederik Prinsloo het begin om ‘n opstand aan die Oosgrens te organiseer. Die rebelle is uiteindelik tot oorgawe gedwing. Hans Bezuidenhout is dodelik gewond, en die res is op 15 Desember 1815 in die landdroshof op Uitenhage verhoor; een is begenadig deur lord Charles Somerset; die ander, naamlik Cornelis Faber (43 jaar), ‘n swaer van Hans Bezuidenhout, Stephanus Cornelis Bothma (43 jaar), en sy broer Abraham Carel Bothma (29 jaar), Hendrik Frederik Prinsloo (32 jaar) en Theunis Christiaan de Klerk (3o jaar), ‘n swaer van Prinsloo, is die doodstraf opgelê. Op 9 Maart 1816 is die vyf op Van Aardtspos, 20 km suid van Slagtersnek, in die openbaar opgehang. Ds. T.J. Herold, leraar te George, en dr. G. Glaeser, geneesheer van die Kaapsche Regiment, was onder die aanwesiges om hul laaste dienste te bewys. Stephanus Bothma het die omstanders toegespreek en hulle vir oulaas gemaan om die owerhede gehoorsaam te wees. Toe die toue van vier van die veroordeeldes breek, het hulle, half verwurg, landdros Cuyler gesmeek om genade. Cuyler se antwoord was dat hy nie die mag daartoe het nie, en hulle is een vir een opgehang. Bittere haat teen die owerhede oor die strenge vonnisse en onmenslikheid van die teregstelling het onder die bevolking van die Oos-grens posgevat. Die geelhoutbalk waaraan die vyf rebelle opgehang is, is in die kelder van die Staatsargief in Pretoria. Aka fak M.V.H

1910
J.J.F. (Twakkies) du Toit gebore

Johannes Jacobus Fourie (Twakkies) du Toit het sy opleiding aan die Fouriesburgse Hoërskool en die PUK vir CHO ontvang en het as onderwyser en skoolhoof by verskeie skole in Johannesburg diens gedoen. Hy dien die gemeenskap sedert 1935 op talle terreine van die volkslewe. Sy belangrikste openbare bydrae lewer hy waarskynlik as lid en voorsitter van die Federale Raad van Skakelkomitees in Johannesburg, wat later die Gebied kultuurraad Rand-Sentraal geword het. Aka fak E.L.P.S.

1916
Tafelberg-Uitgewers gestig

Die Afrikanervolk had in die tydvak na die Engelse Oorlog die behoefte aan geestelike en politieke uiting. Die Nasionale Pers se publikasies het ter gedeeltelike vervulling hiervan, in en an 1915 tot stand gekom. In die jare daarna het sy boeke en publikasies grootliks bygedra tot die ontwikkeling van Afrikaans as gevestigde geskrewe taal. Die geskiedenis van Tafelberg-Uitgewers, as direkte afstammeling van die Nasionale Pers, wat sedert 9 Maart 1916 met boekhandel bedrywighede in Bloemfontein begin het, is in baie opsigte die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Dit is baie duidelik te meet aan die talle literêre pryse wat in die loop van die jare aan hom toegeken is. FAK

No comments: