2008/03/08

Maart 8

1827
Prof. dr. N.J. Hofmeyr gebore


Nicolaas Jacobus Hofmeyr is op Stellenbosch gebore en ontvang sy skoolopleiding aan die enigste Hollandse skool in die Kaap, Tot Nut van’t Algemeen. Hy vertrek na Holland om hom aan die Universiteit van Utrecht as predikant te bekwaam. In 1849 lê hy die kandidaatseksamen af met die hoogste lof. Van 1851 tot 1858 is hy predikant van die gemeente Hantam, wat op sy aandrang Calvinia, na Calvyn, genoem is. In 1859 word hy en ds. John Murray die eerste teologiese professore aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch. Baie jare het hy ‘n onberekenbare invloed op sy studente uitgeoefen. Hy het baie in die hoër onderwys belang gestel, en hierin was sy bondgenoot ds. J.H. Neethling, van Stellenbosch. Op hulle aandrang is die Stellenbossche Gymnasium (Gimnasium Paul Roos) in 1866 gestig. Hieruit het die senior afdeling in die Victoria-Kollege ontwikkel, wat in 1918 die Universiteit van Stellenbosch geword het. Hulle het ook die Hoër Meisieskool Bloemhof gestig. Prof. Hofmeyr het hom vroeër al verset teen die liberalisme wat in die NG Kerk begin indring het. In 1862 stig hy De Volksvriend, wat veral die ortodokse Calvinistiese geloof teenoor die liberalisme beklemtoon het. Hy begin die Sondagoggend Bybelklasse op Stellenbosch, waaruit die Christelike Jongeliedevereniging (CJV) voortgekom het. Hierdie lesings word in ‘n aantal stigtelike boeke gepubliseer, wat wye invloed uitgeoefen het en selfs in Duits vertaal is. Hy is op 2 September 1909 op Stellenbosch oorlede. Aka fak F.C.F

1847
Ds. J.R. Albertyn gebore

Johannes Rudolf (die oue) Albertyn, seun van ds. En mev. P.K. Albertyn, is op Prins Albert gebore. Hy geniet sy skool-opleiding aan die Paarlse Gimnasium en gaan vervolgens na die Teologiese Kweekskool van Stellenbosch om hom vir predikant te bekwaam. Hy word as predikant gelegitimeer in 1871 en word predikant van die Kleurling gemeente van St. Stephens in Kaapstad, waar hy twee jaar bly. Daarna is hy na die VSA, waar hy onder invloed van die evangelis Moody kom. Met sy terugkeer, belê hy ‘n predikante-konferensie, en hieruit word gemeentelike konferensies belê wat later uitloop op spesiale evangelieprediking. Na sy ernstige siekte en herstel word hy ook aan die einde van sy lewe een van die eerste spesiale evangeliepredikers. Gedurende die Engelse Oorlog besoek hy Boerekrygsgevangenes op St. Helena en Bermuda. In 1888 het hy al as predikant van Riversdal die gebruik begin om Nagmaal in die banke i.p.v. aan tafel te laat bedien. Met die Sinode van 1890 kry hy steun hiervoor, en dit word spoedig ‘n algemene gewoonte in die kerk. Hy was een van die beste kanselredenaars wat die NG Kerk opgelewer het. Hy is oorlede op 17 Februarie 1920 op Wellington. Aka fak F.C.F.

1898
Dr. T.E. Dönges gebore

Theophilus Ebenhaezer Dönges is op Klerksdorp gebore. As student op Stellenbosch verwerf hy die grade BA en MA (Filosofie) met onderskeiding, waarna hy hom aan die Universiteit van Londen in die regte bekwaam. In 1925 verwerf hy die LL D-graad aan die universiteit. Terug in Suid-Afrika, tree hy tot die joernalistiek toek. Onder meer as hoof assistentredakteur van Die Burger. Vanaf 1927 tot 1948 het hy regsgeleerde gepraktiseer. In die tyd het hy reeds begin om ‘n prominente rol in die godsdienstige, kulturele en ekonomiese lewe van die Afrikaner te speel. Hy dien as bestuurslid in verskeie organisasies, onder meer as ondervoorsitter van die FAK. In 1941 tree hy tot die politiek toe as LV vir Fauresmith. Daarna volg ‘n lang en toegewyde politieke loopbaan, onder meer as Minister van Binnelandse Sake (vanaf 1948), Kaaplandse leier van die Nasionale Party (vanaf1953), en Minister van Finansies (vanaf 1958). Die kroon word op die openbare loopbaan van die innemende dr. Dönges gespan toe hy in 1967 as Staatspresident aangewys word. Ernstige siekte en sy dood in Januarie 1968 het verhinder dat hy die amp kon beklee. Aka fak H.J.v.A

No comments: