2008/03/07

Maart 7

1902
Oorwinning by Tweebos

In Wes-Transvaal was lord Methuen se mag op 6 Maart 1902 in ‘n skermutseling met ‘n klein Boerekommando betrokke en het hy daardie aand op Tweebos oornag, waar hy verneem het dat die Boerekommando met ‘n sterk mag onder genl.. J.H. de la Rey verenig het. Vroeg die volgende oggend het Methuen se mag in ‘n noordelike rigting getrek, maar hy is spoedig deur die burgers van De La Rey aangeval. Baie Britse soldate het op die vlug geslaan, en hul offisiere het ‘n vergeefse poging aangewend om hulle te keer. Die geveg was spoedig verby. Verliese aan Britse kant was hoog, naamlik 68 gedood, 121 gewond en ongeveer 600 krygsgevange geneem. Onder die gewonde krygsgevangenes was ook lord Methuen, maar genl.. De la Rey het hom vrygelaat, sodat hy beter mediese versorging kon geniet. Die geveg by Tweebos was die laaste groot Boere-oorwinning in die Engelse Oorlog en het vanweë die foutlose taktiek die kroon gespan op De la Rey se bekwaamheid as ruiter generaal. Aka fak C.M.B

1931
Eerste komitee vir die FAK-Volksang bundel aangestel

Die gedagte aan ‘n Afrikaanse liederebundel het by die Afrikaanse Studentebond ontstaan. Gedurende 1929 is begin met die versameling van liedjies, maar aangesien die vordering stadig was, versoek die ASB die FAK in 1930 om die onderneming op groot skaal van stapel te laat loop. Op ‘n vergadering van 7 Maart 1931 het die Uitvoerende Komitee van die FAK besluit om aan hierdie versoek gehoor te gee. Die Uitvoerende Komitee het ‘n FAK-kommissie aangestel om ‘n FAK liederebundel saam te stel. Die kommissie het bestaan uit dr. Hugo Gutsche (voorsitter), prof. W.J. du P. Erlank (Eitemal) en mnr. Stephen Eyssen. Op 5 November 1932 het die Liederebundel-komitee sy eerste vergadering gehou en is daar met die opstel van die FAK-Volksangbundel begin.

Dit was geen geringe taak nie, en baie probleme het opgeduik. Intussen het dit bekend geword dat ‘n uitgewersfirma, J.H. de Busy, van Pretoria, ook met die opstel van ‘n soortgelyke bundel besig is. Die firma het die FAK om samewerking genader en het o.m. onderneem om die druk- en verspreidingskoste te dra. Hierdie voorstel is goedgunstig aanvaar, en so is die voltooiing van die FAK-Volksang bundel aansienlik bespoedig. Met groot vreugde is die eerste eksemplare van die FAK-Volksang bundel amptelik op die FAK-kongres in Julie 1937 in Bloemfontein in ontvangs geneem. Op gepaste wyse het dr. A.J.R. vanRhijn namens die FAK by hierdie geleentheid gesê “Hierdie bundel gaan baie beteken en sal van ons ‘n singende volk maak. Ek beskou dit as een van die grot bakens wat die FAK in sy reusetaak ingeplant het. As die FAK niks anders sou doen nie, dan het hy al met hierdie bundel ‘n monument opgerig wat ewig sal staan.” Sedertdien het die Sang bundel een van die bekendste Afrikaanse publikasies geword, het dit twee nuwe uitgawes en talle herdrukke beleef en is daar met insluiting van ‘n volledige woorde uitgawe sowel as ‘n verkorte woorde-uitgawe, genoem die FAK Feessangboekie, etlike honderdduisende eksemplare versprei. In 1979 verskyn as deel van die FAK se halfeeufeesviering en onder leiding van prof. Anton Hartman, voorsitter van die redaksiekomitee, ‘n vierde uitgawe wat heelwat van sy voorgangers verskil, aangesien daar nou baie meer oorspronklike Afrikaanse liedere opgeneem is en die ou liedere se woorde en musiek met groot nougesetheid hersien is. FAK

No comments: