2008/03/06

Maart 6

1902
Prof C.H. Rautenbach gebore


Casper Hendrik Rautenbach was seker een van die gewildste en bekwaamste rektore van die Universiteit van Pretoria. Nadat hy die grade BA en BD, die MA-graad in Wysbegeerte (alles met lof) behaal het, word hy in 1923 aangestel as deeltydse lektor in Wysbegeerte. Hierna tree hy in die bediening van die NH Kerk, behaal in 1932 die D. Phil-graad aan UP en word in 1939 hoogleraar in die Etiek en die Geskiedenis van die Wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria. In 1948 word hy rektor, ‘n pos wat hy met die hoogste onderskeiding tot en my sy aftrede op 30 Junie 1970 beklee het. Benewens talle publikasies het prof. Rautenbach in verskeie rade gedien soos die Adviserende Universiteitskomitee vir die Minister van Onderwys; voorsitter van die Raad van Beheer van die SA Biografiese Woordeboek; lid van talle komitees insake onderwys, opvoedkundige en kulturele aangeleenthede. As akademikus en kultuurmens van formaat het prof. Rautenbach ‘n groot bydrae gelewer tot die bestendiging en uitbouing van die Afrikaanse karakter van die Universiteit van Pretoria. Aka fak P.G.N

1904
Prof. H.M. van der Westhuysen gebore

Hermanus, Martinus van der Westhuysen is in die distrik Pretoria gebore. Na sy studie aan die Pretoriase Onderwyskollege en die Universiteit van Pretoria word hy in 1938 deeltydse dosent aan die Universiteit van Pretoria en op 1 Januarie 1939 professor in en hoof van die destydse departement Afrikaanse Kuns en Kultuur. Vanaf 1955 was hy professor en hoof van die Departement Kultuurgeskiedenis. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was hy ‘n aktiewe ondersteuner van die Ossewa-Brandwag, wat hy beskou het as ‘n sterk stimulerende en behoudende faktor in die Afrikaner se kultuurlewe en in sy strewe na behoud van identiteit, nasionale trots en soewereiniteit. As groot Afrikaner, rustige en besielde dosent het hy menige student tot groot hoogtes gelei en aangevuur om brandwag te staan vir die Afrikaanse taal en kultuur. Aka fak P.G.N

1905
Is’t Ons Erns-toespraak – Onze Jan


Deur sy hele politieke loopbaan pleit J.H. Hofmeyr (Onze Jan) daarvoor dat Engels en Hollands op gelyke voet geplaas moet word. Hy stel hom ten doel om die lees van Hollands aan te moedig. In sy bekende toespraak op Stellenbosch op 6 Maart 1905 voor die Stellenbosse studentevereniging Ons Spreekuur, getitel “Is’t ons ernst?”, bepleit hy die handhawing van Hollands as die skryf en moedertaal van die volk, al is die skryftaal in ‘n vereenvoudigde spelling. Hy stel die vraagt of die miskenning van hul moedertaal wel vir die Nederlanders van destyds ‘n saak van erns is. Hy gee praktiese voorbeelde van waar Nederlands verdraai en verengels is en trek veral te velde teen die swak toestand op skool waar Hollands nouliks as vak aangebied is. Hy is van mening dat die Hollanders selfs iets aan die saak moet doen, dat die miskenning van hulle taal hulle eie skuld is, en dat hulle wat praat oor liefde vir en lojaliteit teenoor die moedertaal, iets daadwerkliks aan die taalkwessie sou doen as dit vir hulle ‘n saak van erns was. Deur voorbeelde van volke wat onder vreemde heersers nog hulle moedertaal behou het, toon hy aan die hoorders dat so iets slegs moontlik is as ‘n volk taalkwessie hulle erns maak. As ander volke hulle taal kon handhaaf, kan die Hollanders in Suid-Afrika dit ook doen – “indien het u Ernst is”. Dit is opmerklik dat Hofmeyr pleit vir die behoud van Nederlands, en dat hy nie die waarde van Afrikaans besef of ingesien het nie. Die kernvraag van hierdie toespraak verskyn op die voetstuk van Hofmeyr se standbeeld in Kaapstad. Die toespraak het gelei tot ‘n belangrike debat tussen Afrikaanse geleerdes, predikante en joernaliste oor die onderskeie meriete van Nederlands en Afrikaans, waaraan mense soos Gustav Preller, J.H.H. de waal en dr. D.F. Malan deelgeneem het wat die voortou geneem het om die tweede Afrikaanse taalbeweging van stapel te laat loop. Gustav Preller antwoord in Junie 1905 met “Laat’t ons toch ernst wezen”, waarin hy pleit vir die voortbestaan van Afrikaans in plaas van Nederlands. Na hom volg dr. D.F. Malan in Augustus 1908 met “Het is ons Ernst”, waarin hy ook Afrikaans bo Nederlands stel as die taal van die volk. Hierdie toespraak ten gunste van Nederlands het dus direk aanleiding gegee tot die bewussyn dat die stryd om Afrikaans as volkstaal bo Nederlands voortgesit moet word. Aka fak P.G.N

No comments: