2008/03/05

Maart 5

1839
J.F. (Jan Volkstem) Celliers gebore

Johannes Francois Celliers is in die distrik Malmesbury gebore, ontvang sy onderrig in die Paarl. Op 24-jarige leeftyd word hy joernalis by Het Volksblad. Op versoek van pres. Burgers gee hy op 8 Augustus 1873 ‘n pro-regeringskoerant, De Volksstem, in Pretoria uit, wat as teenvoeter vir die Engelse koerante sou dien. As gevolg van hierdie openlike steun aan die Transvaalse burgers wat Celliers in sy blad uitspreek, word hy in 1880 ‘n maand lank deur die Britse regering in die gevangenis gehou. Onder leiding van genl.. Joubert word ‘n bedrag geld ingesamel om Celliers in staat te stel om sy blad na sy vrylating weer uit te gee. In 1881 word Celliers Volksraadslid en sekretaris van die Afrikanerbond. In 1881 verkoop hy sy drukkery aan die regering, waarna dit die grondslag vorm vir die staatsdrukkery, en hy wy hom tot sy dood op 4 Maart 1895 aan die politiek. J.F. Celliers was die vader van Jan F.E. Celliers, een van ons bekende Afrikaanse digters. Aka fak P.G.N

1865
Rachel (Tibbie) Steyn gebore


As pastorie-dogter van Philippolis uit Skotse ouers (ds. En mev. Colin Fraser) sou Rachel Isabella as opgeleide onderwyseres ‘n besondere rol in die geskiedenis van die Afrikaner speel. Sy tree in 1887 in die huwelik met advokaat M.T. Steyn en word daarna eers regters- en uiteindelik in 1896 Staatspresidentsvrou. Hierdie hoedanigheid beklee sy met waardigheid in die Presidensie sowel as op hul plaas, Onze Rust. Gedurende die Engelse Oorlog wyk sy aanvanklik saam met die regering uit, maar sedert die helfte van 1900 is sy as gevangene in huisarres in Bloemfontein aangehou, waar dikwels onbehoorlike druk op haar uitgeoefen word om die bittereinder pres. Steyn te oorreed om oor te gee. Met Steyn se ernstige siekte by die vredesonderhandelinge is sy die een wat intree en teen alle advies reël dat hy vir mediese behandeling na Europa geneem word. Deur haar troue sorg keer die Steyn-gesin in 1905 na Suid-Afrika terug. Steeds bly sy die sjarmante en innemende gasvrou op Onze Rust. Saam met Steyn wy sy haar aan volksopbou: sy word tot eerste voorsitster van die Oranje-Vrouevereniging verkies; vervul ‘n belangrike skakel deurlopend met haar vriendin Emily Hobhouse, en as laaste skakel met die presidents amp van die eertydse Republieke, tree sy by talle volksfeeste op. In 1948 is sy per vliegtuig as buitengewone gesant na Nederland om Suid-Afrika by Juliana se troonopvolging te verteenwoordig. Op 8 Oktober 1948 huldig die FAK haar as een van Suid-Afrika se uitnemendste volks heldinne by ‘n geleentheid wat saamgeval het met ‘n landwye huldiging van volks heldinne op Krugerdag van daardie jaar. Sy sterf op 3 Januarie 1955, byna negentig jaar oud, en word in dieselfde graf as pres. Steyn by die Vrouemonument ter ruste gelê. aka fak M.C.E.v.S.

1906
Siegfried Mynhardt gebore

Gebore in Johannesburg en as predikant seun getoë in Wynberg, Kaap, en Carnarvon, tree Siegfried Mynhardt in 1929 toe tot die toneel beroep as lid van die geselskap van Hendrik Hanekom, waarna hy waardevolle vorming ondergaan by bekende toneel figure soos Paul de Groot. Anna Claassen en Andre Huguenet, voordat hy in 1937 na Engeland gaan waar hy lid word van die beroemde Old Vic-geselskap. Hy keer in November 1940 na sy vaderland terug, en stig sy eie Afrikaanse toneelgeselskap. In 1945 tree hy en sy geselskap voor die Suid-Afrikaanse troepe op in Noord-Afrika, Italië en Oostenryk. Hy is in 1947 mede-regisseur van en vertolk hy ook die rol van Laertes in die Afrikaanse opvoering van Hamlet in Johannesburg, waarna hy as lid van die eerste geselskap van die Nasionale Toneelorganisasie aangestel word. Siegfried Mynhardt is een van die veelsydigste spelers op die Suid-Afrikaanse verhoog, is volkome tweetalig en het hom ook onderskei as radio-, film- en televisie speler. Hy ontvang in 1957 die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Erepenning vir Toneelkuns (spel) aka fak M.J.G

1906
Wentzel Christoffel du Plessis gebore

Gebore in Pretoria, ‘n loopbaan van diens gewy aan die Afrikanervolk as Administrateur en veral as Ambassadeur in Washington (1956 tot 1960) en Direkteur van die Afrika-Instituut, Sekretaris van Inligting (1961 tot 1963) en Administrateur van SWA (1963 tot 1968) en as Volksraadslid (1948) tot 1953). Sy geskrifte Die Goue Draad en ‘n Mens vir die mens bevat veel van die Afrikanerstryd en sy lewensbeskouing. Hy het landwye bekendheid verwerf toe hy in die Volksraadsverkiesing van 1948 die destydse Eerste Minister, genl.. J.C. Smuts, in die kiesafdeling Standerton verslaan het. aka fak P.H.K

No comments: