2008/03/04

Maart 4

1890
Gerard Moerdijk gebore

Toe die jong Gerard Leendert Pieter Moerdijk in 1920 die boekie Kerkgeboue vir Suid-Afrika geskryf het, was hy nog ‘n onbekende Johannesburgse argitek. Die Afrikaanse dagblaaie en tydskrifte het hom dadelik aangegryp as die versinnebeelding van die Afrikaner se kultuur bewustheid in die boukuns. Hy was talentvol, intelligent, ‘n goeie spreker en skrywer en ‘n dinamiese voorstander van ‘n volks egte argitektuur. Opdragte vir die ontwerp van kerke het ingestroom en ander openbare geboue het gevolg. Toe hy op 29 Maart 1958 oorlede is, was hy ongetwyfeld die bekendste Afrikaanse argitek. Sy ontwerp vir die Voortrekkermonument was die hoogtepunt van ‘n loopbaan wat geboue oor die hele land nagelaat het. aka fak A.P.B

1896
Eerste beëdiging van pres. M.T. Steyn

Nadat strafregter Marthinus Steyn met ‘n volstrekte meerderheid deur die Vrystaatse Volksraad in Desember 1895 as kandidaat vir die presidentskap aangewys is, is hy in Februarie 1896 met ‘n oorweldigende meerderheid bo sy oom, J.G. Fraser, tot die amp verkies. As eerste gebore Vrystater, sou hy in die bekende Tweetoringkerk, soos sy voorgangers Brand en Reitz, die plegtige ampseed aflê en as vyfde en laaste Staatspresident van die Oranje-Vrystaat in die kerkgebou sy intreerede hou. Hy is ook uit hierdie kerkgebou begrawe. Aka fak M.C.E.v.S

1908
James Norval gebore

Die toneelspeler James Norval is op Zastron gebore en het sy toneelloopbaan in 1930 by die Afrikaanse Toneelgeselskap van Hendrik Hanekom en Willem van Zyl begin. In 1932 het hy sy eie geselskap tot stand gebring, goed ondersteun deur Anna Cloete (met wie hy later in die huwelik tree), wat verskeie stukke wat hulle opvoer, self geskryf het. James Norval ontwikkel as ‘n stewige karakterspeler wat in die vyftigerjare ook die rolprentwêreld betree. In 1967 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vereer met sy Erepenning vir Toneel. Hy is op 16 November 1970 oorlede. Aka fak M.J.G

1919
J.H. Hofmeyr word rektor


Op hierdie dag het die intellektueel hoog begaafde Jan Hendrik (Frederik) Hofmeyr op 24-jarige ouderdom rektor van die Witwatersrandse Mynskool, Universiteit in 1922, geword. Op 29 jaar was hy in 1924 Administrateur van Transvaal. Alles wat hy tot op daardie tydstip aangeraak het, het hy hoofsaaklik ‘n groot sukses van gemaak. Sy breinvermoë is deur vriend en vyand geprys. Maar hy het van die begin af en deurgaans vreemd teenoor die Afrikaner stryd gestaan. In die jare twintig en dertig was elke Afrikanerleier nodig om die volk ekonomies, polities en kultureel te ondersteun. Die Afrikaner gevoel het gevolglik teen hom gegroei, en hy was verplig om in 1929 as Transvaalse Administrateur te bedank. Hy het hom dadelik by Smuts se Suid-Afrikaanse Party geskaar, maar deurgaans ook hier half ontuis gevoel, omdat hy ‘n breër, meer oop en geïntegreerde Suid-Afrikanisme voorgestaan het. Nogtans het hy na 1939 Smuts se regterhand en adjunk-premier geword. Die land was aan hom oorgelaat, want Smuts was met sy internasionale oorlogs take besig. Die gevolg was groeiende onrus by die Afrikaner, omdat sy kultuur en afkoms juis via die politiek verder bedreig is. Dit was ‘n uitgemaakte saak dat Hofmeyr polities die bejaarde Smuts se opvolger sou wees. In 1948 is Smuts polities verwerp, onder meer omdat Hofmeyr eendag premier kon word. Aka fak M.J.S

No comments: