2008/03/03

Maart 3

1858
Nuwe Vlag, Wapen en Volkslied vir Transvaal


Potchefstroom, 3 Maart 1858. ‘n Nuwe vierkleur is vandag as nasionale vlag van “De Zuid-Afrikaansche Republiek” in gebruik geneem. Op die wit agtergrond van die horisontale baan verskyn die wapen van die Republiek. Bo die wapen staan die woorde “Eendracht Maakt Magt” en onder “De Zuid-Afrikaansche Republiek”. Nadat die vlag gehys is, het die landdros die vlaglied voorgelees. Een-en-twintig vreugdeskote is met ‘n kanon afgevuur, gereeld onderbreek deur geweervuur uit vyfhonderd muskette. President Marthinus Wessel Pretorius het die aanwesiges met ‘n kragtige woord toegespreek en die lug het weergalm met die woorde: “Getrouw tot die dood.” Noudat die simbole van eenheid gevind is, is dit die president se vurigste wens dat hy spoedig al die Republiekkie’s onder een regering sal kan verenig.

1875
Ds. E.J.J. van der Horst gebore


Evert Jean Jacques van der Horst begin in 1903 sy bediening as leraar van die NG gemeente Wolmaransstad. Hy was ‘n sterk en oortuigde volksman en het hom in 1915 verkiesbaar gestel as Volksraadslid van die Wolmaransstad-setel. Dit is dus ‘n unieke geval van iemand wat daardie twee posisies gelyktydig beklee het. Na ‘n toetssaak in die Hooggeregshof het hy in 1920 as Volksraadslid bedank en na die heeltydse bediening in sy gemeente teruggekeer. Steeds sou sy belangstelling in die volksake bly en so beywer hy hom vir skool belange. In 1925 is hy benoem as Welsyn superintendent in die Departement van Arbeid. Sy liefde en groot belangstelling in die posisie van die minderbevoorregtes het hom nou in staat gestel om by verskeie besproeiingskemas, soos Kakamas, Warrenton, Vaalharts en Hartbeespoort waardevolle diens te lewer. Hy is in 1958 oorlede. Aka fak P.B.v.d.W

1943
Saambou (Permanente) Bouvereniging gestig

Die Tweede Wêreldoorlog was in volle gang toe in 1942 die eerste eie Afrikaanse bouvereniging, die Unie-Bouvereniging, gestig is om in die geweldige woningnood wat in die oorlogs jare ontstaan het, te voorsien. Die naam van hierdie bouvereniging is agt maande later op 3 Maart 1943 verander in Saambou (Permanente) Bouvereniging. As rede vir die naamsverandering is aangevoer die moontlike verwarring wat kon ontstaan tussen die nuwe Afrikaanse bouvereniging en die van ‘n ander bouvereniging wat toe reeds etlike jare bestaan het. Met die stigting van Saambou (Permanente) Bouvereniging het die Afrikaner se strewe na ekonomiese selfstandigheid en onafhanklikheid, ook op finansiële gebied, positiewe gestalte begin aanneem en is sodoende nog ‘n belangrike mylpaal in die ekonomiese geskiedenis van die Afrikaner bereik. Insgelyks kan daar gesê word dat Saambou (Permanente) Bouvereniging uit die volk gebore is om die volk te dien. Hoewel die nuwe jong bouvereniging in die ongunstige ekonomiese toestand wat in die oorlogs jare in die land geheers het, dit moeilik gevind het om met reeds gevestigde bouverenigings mee te ding, is die vertroue van die publiek geleidelik gewen en het die Vereniging van krag tot krag gegroei in die naoorlogs jare. Onder die bekwame en geïnspireerde leiding van dr. M.S. Louw, sy voorsitter, het die Vereniging spoedig gegroei tot een van die ses grootste bouverenigings in Suid-Afrika met totale bates van meer as R100 miljoen. In April 1970 het Saambou (Permanente) Bouvereniging geamalgameer met Nasionale Bouvereniging om die nuwe Afrikaanse bouverenigings reus Saambou-Nasionaal te vorm. Aka fak H.A.S

No comments: