2008/03/30

Maart 30 Vandag in die Geskiedenis 1853, 1884, 1893, 1936, 1947, 1966, 1978 Today in History March 30


Andries Potgieter Heengegaan
Slag vir Trekkers in Noord-Transvaal
Schoemansdal
30 Maart 1853

Op sy plaas in die Soutpansberge, omring deur die lede van sy gesin, is Andries Potgieter op sestigjarige leeftyd oorlede. Gebore in die grensdistrikte van die Kolonie, was hy oud genoeg om deel te neem aan die vierde en vyfde Kafferoorloë Nog beter as die ander Trekkers het hy die Swart-grensbewoners geken en besef watter gevare hulle in die binneland te wagte kon wees. Toe die sesde Kafferoorlog begin het, was sy planne om te trek reeds agtermekaar, en nadat hy sy plig as kommandant gedoen het, het hy aan die hoof van die eerste geselskap wat die Kolonie verlaat het, weggetrek. In sy eie gesin alleen was twintig kinders, stiefkinders en aangenome kinders vir wie hy ‘n veilige woonplek moes vind. ‘n Veilige woonplek was slegs moontlik indien die naturelle ontsag vir die blankes sou hê, en daarna het Potgieter gestrewe met al die krag wat in hom was. Twee maal het hy teen die Mate4beles uitgetrek, en na die rampe wat die Trekkers in Natal getref het, is Potchefstroom deur hom gestig.

Vrees vir Engelse inmenging en die verlange na volkome onafhanklikheid het hom al hoe meer na die noorde gedryf en laat soek na ‘n eie hawe of aansluiting met die Portugese in die noorde. Hy het geen heil gesien in onderhandelinge met Engeland nie, en veral op daardie punt het hy sy beleid radikaal verskil met die van Pretorius. Ander geskilpunte tussen die leiers en die Volksraad is bygelê en ook het die Volksraad op 18 Junie 1852 die Konvensie van Sandrivier bekragtig. Maar dis kenmerkend van die ontslape leier dat hy nie by Sandrivier teenwoordig was nie, en ook sy volgelinge heg minder waarde aan die ooreenkoms as Andries Pretorius en sy ondersteuners.

Die heengaan van die baanbreker-trekker Andries Potgieter is ‘n swaar slag vir die Trekkers wat in die mees noordelike deel van Transvaal woon, maar hulle bly nie leierloos agter nie, want reeds staan die volgende geslag gereed om in die bresse te tree. Daar word algemeen aangeneem dat Piet Potgieter kommandant-generaal in sy vader se plek sal word.


Engeland Neem Basoetoland Oor
Kaapstad
30 Maart 1884


Nadat generaal Charles George Gorden sy bedanking ingedien en Basoetoland verlaat het, het die verwarring, veral in die grensgebiede, toegeneem en is die heer John X. Merriman na Londen gestuur om die oorname van Basoetoland te bespreek. Gevolglik is Basoetoland vandeesmaand deur die Imperiale Regering oorgeneem op voorwaarde dat die Kaapse Parlement ‘n regverdige deel van die invoerregte afstaan.




1893
Kmdt. J.W. Viljoen oorlede

Nadat Johannes Willem Viljoen in die veertigerjare van die vorige eeu ‘n leidende rol onder die Voortrekkers van Winburg gespeel en aan die Slag by Boomplaas deelgeneem het, vestig hy hom in Transvaal, waar hy kommandant word vir Marico. Hier verwerf hy spoedig ‘n reputasie vanweë sy vurige patriotisme en onverskrokkenheid. Hy is ook allerweë bekend as ‘n kranige grootwildjagter wat, soos baie beweer, reeds in 1851 by die Victoria-waterval was – drie jaar voor Livingstone. Aka fak P.J.d.B

Talentvolle Digter Oorlede
Pelindaba
30 Maart 1936


Die lyk van die begaafde digter, adv. Eugene Nielen Marais, is vandag in die veld omtrent twintig myl van Pretoria gevind. Langs hom het ‘n haelgeweer gelê. Hy was vier-en-sestig jaar oud. In die distrik Pretoria gebore, was hy reeds op jeugdige leeftyd ‘n ywerige joernalis. In 1892 was hy redakteur van sy eie blad, Land en Volk, en mederedakteur van ‘n paar Engelse blaaie. In 1898 het hy na die dood van sy vrou Engeland toe gegaan en daar in die medisyne en die regte gestudeer, maar aan die begin van 1902 het hy dwarsdeur Afrika gereis met medisyne en ammunisie om sy landgenote te probeer help. Die hulp het te laat gekom, maar Eugene Marais het ‘n paar jaar later sy volk meer gehelp, toe die publikasie van sy gedig Winternag die bewys gelewer het dat die Afrikaanse taal hom leen tot die fynste uitinge van die gemoed. As digter en denker sal Eugene Marais se naam in dankbare herinnering bly voortlewe. Sy boeke Die Siel van die Mier
(..... Toen een jaar later de Engelse vertaling verscheen, reageerde een Zuid-Afrikaans dichter, journalist en amateurbioloog ontsteld: Maeterlincks centrale stelling zou van hem afkomstig zijn. Onderzoek in Belgische en Zuid-Afrikaanse archieven geeft hem gelijk. .....
http://www.oulitnet.co.za/neerlandi/10termieten.asp ) en Burgers van die Berge is van die eerste Afrikaanse boeke wat ooit in Engels vertaal is.

Winternag

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ‘n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk grashalm se vou
Blink ‘n druppel van dou,
en vinnig verbleik dit
tot ryp in die kou!


1947
Prof. I.D. Bosman oorlede

Izak Daniël Bosman, op 2 Februarie 1897 in die distrik Frankfort gebore, het hom as onderwysman en studentevriend maar ook as kultuurdraer en kultuur skepper onderskei. Hy het aan die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein gestudeer en in 1931 aan die Universiteit van Amsterdam in die Geskiedenis gepromoveer. Hy het onderwys gegee op Reddersburg, Vredefort en Bothaville voordag hy in 1935 professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria geword het waar hy tot met sy skielike heengaan op 30 Maart 1947 gewerk het. Izak Bosman met sy groot Boerehart het orals waar hy hom bevind het, offervaardig gedien, miskien die meeste deur die mooi voorbeeld wat hy gestel het. Die Afrikaanse kultuurlewe het hy verryk, hetsy deur steun te verleen aan bestaande organisasies of die skepping van nuwes. Teenoor die Afrikanerjeug het hy nooit onverskillig of afsydig gestaan nie. aka fak A.N.P

1966
Algemene verkiesing


Tot dusvêr het interne sake in ons politiek die gemoed van die kieser op die stemdag die meeste beïnvloed. Op hierdie dag het buitelandse aangeleenthede egter meer as ooit vroeër ook ‘n uitwerking gehad. Botter-en-brood-sake het geen rol gespeel nie. Die Afrikaner, en vir haas die eerste keer ook die nie-Afrikaanse kieser, het besef dat premier Verwoerd na binne die orde handhaaf, en dat hy in sy buitelandse betrokkenheid binnenslands polities sterk gesteun moet word, ten einde ons vaderland se internasionale staatkundige posisie te help bevestig. Die swart state van Afrika, ons groter skakeling met Europa en nie hoofsaaklik net met die Verenigde Koninkryk nie, die Rhodesiese eensydige onafhanklikheidsverklaring van 1965 en die gevorderde selfbestuur wat aan die Transkei toegeken is het alles ons interne politiek geraak. Die begaafde Verwoerd, bekend as volksgetrou, het met hierdie laaste verkiesing van hom presies bewys dat vriend en vyand agting het vir iemand wat sy kultuurerfenisse bewaar en bevestig, ongeag ander terreine van samewerking. Vandaar die landwye verbystering toe juis hierdie man, en wel by sy werkbank in die Volksraad in September 1966 vermoor is. aka fak M.J.S


1978
Bas Goedhart oorlede

Gebore op 31 Mei 1920 in Nederland, kom Bas Goedhart in 1964 na Johannesburg en tree in diens van die SAUK. Naas sy werk as nuus kommentator, lid van die NSAW en meewerker aan die Kerkblad, skryf hy twee boeke, t.w. Suid-Afrika, die adel van jou naam en Zuid-Afrika op die Tocht. Hy is op 30 Maart 1978 oorlede. Aka fak E.L.P.S