2008/03/22

Maart 22

1896
Ons Klyntji verskyn vir die eerste maal

Ons Klyntji was die eerste en by sy verskyning die enigste tydskrif in Afrikaans. Die Patriot, wat in 1876 verskyn het as spreekbuis vir die taal strewe van die Genootskap vir Regte Afrikaners, het mettertyd in ‘n nuusblad verander en het ongewild geraak, veral as gevolg van die veranderde politieke beleid van ds. S.J. du Toit. Om die taalstryd voort te sit, moes ‘n nuwe medium gevind word. Op die eerste Afrikaanse taalkongres gehou in die Paarl in Januarie 1896 ter viering van die twintigste verjaardag van Die Patriot, is besluit om ‘n Afrikaanse tydskrif in die lewe te roep wat neutraal sou staan ten opsigte van die politieke vraagstukke van daardie tyd, met S.J. du Toit as redakteur. Die tydskrif is dadelik goed ontvang deur die Afrikaner. Na 1900 het dit egter finansieel, veral as gevolg van die Engelse Oorlog, al hoe slegter met Ons Klyntji gegaan, en in 1906 het die laaste uitgawe van die tydskrif verskyn. Ons Klyntji was die draer van ‘n Afrikaanse gedagte. Hy het die Afrikaner in sy eie taal aangespreek en hom bewus gemaak van homself, hom trots opsy kultuur gemaak en nasionalisme opgewek deur voortdurende propagering van die Afrikaanse gedagte. Die redaksie het deurentyd gepoog om die Afrikaner van sy minderwaardigheidsgevoel op taalgebied te genees deur hom daarop te wys dat hy ‘n taal het wat geensins vir Engels of Hollands terug hoef te staan nie. Deur hierdie houding het die tydskrif ‘n teëwig teen die verengelsingsbeleid gevorm. Op taalgebied het hy baie bygedra tot die gebruik – veral lees en skryf – van Afrikaans, aangesien dit in eenvoudige taal verskyn het wat almal kon verstaan en die redakteur almal aangemoedig het om bydraes in te stuur. Wedstryde wat oor die Afrikaanse taal handel, is uitgeskryf om die Afrikaner meer belangstelling in sy taal en die suiwere gebruik daarvan te gee. Deur taal bewusmaking het Ons Klyntji gedien as ‘n skakel tussen die eerste en tweede Afrikaanse taalbewegings. Omdat hy die soms ongeskoolde Afrikaner bereik het, kon die tydskrif opvoedings werk doen op die gebied van die taal, letterkunde, geskiedenis, wetenskap, ens. Eenvoudige lessies is op eenvoudige praktiese en prikkelende wyse aangebied oor ‘n groot verskeidenheid van onderwerpe. In Ons Klyntji word bydraes gevind van ons eerste skrywers oos S.J. de Toit, T.L. Cachet, M.H. Neser, G.R. von Wielligh, C.P. Hoogenhout, J.D. du Toit en B.R. Buys en vind ons spore van ‘n ontwikkelende letterkunde. In Ons Kleintji tref ons reeds prosa en poësie aan met hoër kunswaarde as die wat in Die Patriot verskyn het. Soos Ons Klyntji in sy hoofartikel sê: “Die Patriot het honderde geleer om te skrywe fer ‘n koerant, Ons Klyntji moet tiintaller leer om goed te skrywe.” Vir die volkskundige en kultuurhistorikus is Ons Klyntji ‘n bron van onskatbare waarde. Dit is ‘n spieëlbeeld van die kulturele gesteldheid van die gemiddelde Afrikaner rondom 1900 – daaruit kan ‘n beeld van die Afrikaner gekonstrueer word in sy daaglikse omgang, sy sedes en norme, godsdiens, lewensbeskouing, gewoontes en gebruike, ens. Omdat ons hier bydraes deur die Afrikaner oor homself en sy tyd vind, kan ons die Afrikaner leer ken uit die tydskrif. S.J. du Toit het veral moeite gedoen om ou vertellings, dokumente en volksgewoontes in Ons Klyntji te publiseer wat vir die volkskundige ‘n kosbare erfenis is. Briewe wat tydens die Engelse Oorlog deur Boere te velde of in krygsgevangenekampe ingestuur is, gee ‘n beeld van die daaglikse lewe van die gewone burger tydens die oorlog. Ons Klyntji het daarin geslaag om in ‘n tyd toe die Afrikaanse taal bedreig is, die Afrikaner aan te gryp en hom vir Afrikaans en die Afrikaanse gedagte terug te wen. Die Afrikaner wat nie meer met Die Patriot se politieke houding saamgestem het nie, kon bevrediging put uit ‘n ander blad. Dit het verhoed dat die Afrikaanse taalbeweging doodloop en het aanleiding gegee tot die tweede Afrikaanse taalbeweging wat meer tasbare vrugte afgewerp het. aka fak P.G.N