2008/03/21

Maart 21

Paardekraal – Laingsnek – Ingogo – Majuba!
21 Maart
1881

Transvaal Oorwinnaar in die Stryd
‘n Verenigde Volk Triomfeer


Vandag 21 Maart 1881 op O’Niel se Plaas is daar na drie maande van spanning en stryd ‘n voorlopige vredesonderhandeling afgesluit om later deur die koninklike kommissie voortgesit te word. Na Paardekraal, Laingsnek, Ingogo en Amajuba gaan die Boere terug na hul plase. Hulle het gewaag en gewen. Die gebeurtenisse van die afgelope drie maande word oral bespreek. Paardekraal, waar hulle vroeër bymekaargekom het, na Cronje se optrede in Potchefstroom, om die besluite wat op 16 Desember van die vorige jaar geneem is, in werking te stel – Paardekraal, waar tienduisend gewapende burgers belowe het om hul eie Republikeinse regering tot die dood toe te verdedig, daar het die Volksraad nou weer vergader en die bestuur van die Republiek in hande van die driemanskap, Paul Kruger, Piet Joubert en Marthinus Wessel Pretorius, gestel.

Die eerste proklamasie is deur dr. E.J.P. Jorissen opgestel en deur die heer Borrius in Potchefstroom gedruk, terwyl Piet Cronje sy drukkery met ‘n Boerekommando teen die Engelse beskerm het. Daar is op 16 Desember die eerste skote gevuur, terwyl die Boere op daardie selfde dag beslag gelê het op die Regeringsgeboue by Heidelberg, waar die Vierkleur gehys is. Daarvandaan is Hendrik Schoeman Pretoria toe gestuur om met sir Owen Lanyon te onderhandel oor die teruggawe van Transvaal. Ook is sterk kommando’s na die ooste en die suide gestuur om die sametrekking van Engelse troepe te verhoed.

Vier dae na hierdie gebeurtenisse het die oostelike kommando by Bronkhorstspruit met kolonel Anstruther se regiment wat op pad na Pretoria was, slaags geraak. Nadat hy geweier het om sy opmars te staak, het die Boere geskiet en binne tien minute het 120 van sy 300 manskappe gesneuwel. Die Engelse regimente in die suide het ‘n geveg vermy en teruggetrek na Standerton, waar hulle deur die Boerekommando’s omsingel is. Ook in Potchefstroom, Rustenburg, Lydenburg en elders is Engelse garnisoene deur die Boere omsingel en buite geveg gestel. Aangesien die grootste gevaar van die kant van Natal gedreig het, is die hoofmag van die Boere na die grense van Natal gestuur. Agthonderd burgers te perd het die pas by Laingsnek bewaak en op 28 Januarie het sir G. Pommeroy Colley tevergeefs probeer om daardeur te breek. Elf dae later, teen Skuinshoogte by die Ingogo rivier, het Colley weer slaags geraak eh het die Boerekommando onder generaal Nicolaas Smit hom so getakel dat hy teen die einde van die dag die gevegsterrein moes verlaat.

Na die geveg het Colley die aanbod van Paul Kruger aanvaar om ‘n koninklike kommissie oor die toekoms van Transvaal te laat beslis. Hy het egter binne 48 uur ‘n antwoord geëis, wat ‘n geografiese onmoontlikheid was. Colley, gretig om sy twee neerlae uit te wis, het gedurende die nag van 26 op 27 Februarie met omtrent 550 man die Majuba berg beklim. Teen sonop het die Boere in die kamp hulle teen die hange van die berg gewaar. Dadelik het kommandant-generaal Piet Joubert vrywilligers gestuur om hulle daar te gaan afhaal en 200 man het onder aanvoering van Nicolaas Smit die gevaarlike taak onderneem. Dit het hulle vyf uur geneem om die berg te beklim. Slegs die lope van die Boere se gewere was sigbaar van bo, en die Engelse wat hul gewere nie op die regte afstand gestel het nie, het niemand raakgeskiet nie. Die meeste wat bo oor die kranse geloer het, is dodelik getref, en hul laaste poging om die Boere te keer, het hopeloos misluk. Daar was verwarring onder hulle geledere wat groter geword het toe die Boere sonder aarseling oor die verskansing storm. Die meeste Engelse het halsoorkop langs die steilste kant van die berg probeer wegkom. Neëntig is gedood, 133 gewond en 57 gevange geneem. Onder die gesneuweldes is ook sir G. Pommeroy Colley getel. Aan Boerekant het slegs een man gesneuwel en is vyf gewond.

Op 6 Maart het sir Evelyn Wood, Colley se opvolger, met Piet Joubert ooreengekom om die stryd tydelik te staak. Paul Kruger het ‘n week later, en president Brand het gister, O’Neil se plaas bereik. Die voorlopige besprekinge is vandag afgesluit, maar die besonderhede van die ooreenkoms is nog nie bekend gemaak nie. Die Boere weet nou dat ‘n koninklike kommissie bymekaar sal kom om die verhouding tussen die Suid-Afrikaanse Republiek en Brittanje finaal te bespreek, maar baie van hulle was bitter ontevrede toe hulle hoor dat die Engelse nog ses maande in die land sou bly. Paul Kruger het bekend gemaak dat ‘n buitengewone vergadering van die Volksraad binnekort te Heidelberg gehou sal word.

1881
Vredesluiting na Transvaalse Vryheidsoorlog


Op Geloftedag 1880 het die eerste skoot van die Transvaalse Vryheidsoorlog op Potchefstroom geklap, en op 27 Februarie 1881 het die laaste geveg, ‘n glansryke oorwinning vir die Boere op Amajuba plaasgevind. ‘n Wapenstilstand het gevolg, en pres. J.H. Brand van die Oranje-Vrystaat het op die toneel verskyn om as onpartydige vriend en raadgewer die onderhandelinge tussen die Boere en Britse verteenwoordigers op 21 Maart 1881 in R.C. O’Neil se huis by te woon. ‘n Ooreenkoms is bereik, waardeur die driemanskap van Transvaal, S.J.P Kruger, P.J. Joubert en M.W. Pretorius, onderneem het om Britse susereiniteit te aanvaar. Op 3 Augustus 1881 is die Konvensie van Pretoria deur die lede van ‘n koninklike kommissie aan die een kant en deur die Transvaalse driemanskap aan die ander kant onderteken. Van die datum af het Transvaal weer selfbestuur verkry, onderworpe aan die susereiniteit van die Britse kroon, en hy sou voortaan as die Transvaal staat bekend staan. Deur die Londen-konvensie van 27 Februarie 1884 is die naam Zuid-Afrikaansche Republiek in ere herstel en het die republiek ‘n soewerein onafhanklike staat sonder Britse susereiniteit geword. Aka fak C.M.B

1890
Die Vrouesendingbond van die NG Kerk gestig

Op hierdie dag is die Vrouesendingbond van die NG Kerk op Wellington gestig, waar in 1877 die Sending instituut opgerig is. Aanvanklik het die organisasie net in Kaapland, maar weldra landwyd opgetree. Vir byna ‘n eeu het Afrikaanse vroue skitterende werk langs hierdie weg verrig. Die Evangelie is onder Indiërs, Kleurli8nge en Swart volke verkondig, die Bybel of Skrifgedeeltes, versprei, maatskaplike opheffingsprogramme geloods, reusebedrae geld is ingesamel om arbeiders op te lei of in die verkondiging terreine werksaam te hou en onderwys skemas is aan die gang gesit. Hierdie Bond het op verskeie maniere die Kerk ook buite die landsgrense in sy taak gesteun. Vandag is die Bond steeds deeglik georganiseer en word van die mees moderne tegnieke en metodes gebruik gemaak om die Christus-opdrag te vervul. Uit die optrede van die Bond volg noodwendig newe-voordele vir diegene wat bereik word, gesonde gesinslewe, beroepsopleiding, geldelike stabiliteit en word veral die geleentheid geskep dat inheemse volkere self weer aan hulle eie mense die Evangelie suiwer kan oordra. Aka fak M.J.S