2008/03/20

Maart 20


1602
Stigting van die VOC


Gedurende die sestiende eeu het Nederland as ‘n sterk handel moondheid na vore getree en daarin geslaag om regstreeks met die Ooste met sy speserye en ander kosbare handelsartikels handel te dryf. Ten einde die onderlinge wedywering tussen die tal van handelskompanjies wat so ontstaan het, uit te skakel, het daar in 1602, veral deur bemiddeling van die bekwame staatsman, Johan van Olderbarnevelt, ‘n groot verenigde handelsliggaam tot stand gekom – die “Generale Vereenigde Nederlandsche G’octroyeerde Oostindische Compagnie”’ kortweg bekend as die VOC. Die State-Generaal het aan die VOC ‘n monopolie verleen om handel te dryf in die gebied vanaf die Kaap die Goeie Hoop ooswaarts tot by die straat van Magellaan. Die hoogste gesag van die VOC het by die Here XVII berus en in die Ooste was daar ‘n sentrale bestuur, nl. Die Goewerneur-Generaal en sy Raad van Indië, gesetel in Batavia op die eiland Java. Die VOC het uitgebreide magte besit: hy het oor ‘n eie leër, vloot en vestingwerke beskik, amptenare aangestel, verdrae met inheemse vorste gesluit en sy eie munt geslaan. Weens sy strategiese ligging is daar in 1652 aan die Kaap die Goeie Hop ‘n verversingstasie gestig vir die skepe op die lang tog na en van die Ooste. Dit het tot die vestiging van die Christelik-westerse kultuur en ontwikkeling van ‘n uwe blanke volk in die suidpunt van Afrika gelei. Weens die monopolistiese beleid en jag na wins is die kolonies uitgebuit. Aan die Kaap het dit daartoe gelei dat die koloniste hulle tot die veeteelt gewend en geleidelik al hoe dieper die binneland in getrek het. Die Afrikanervolk het ‘n volk van boere geword en nie van handelaars nie. Nogtans moet daar nie vergeet word nie dat die VOC verantwoordelik was vir die oorplanting van die Calvinistiese godsdiens, die Nederlandse kultuur en beskawing aan die Kaap. Aka fak J.C.P

1870
C.G. Fichardt gebore

Charles Gustav Fichardt was ‘n seun van ‘n Duitse sakeman, G.A. Fichardt, by wie se firma hy hom aansluit tot hy later sy eie onderneming bestuur. Hy dien jare lank as stadsraadslid in Bloemfontein, en in 1899 word hy daar Belgiese erekonsul. Hy veg aan Boerekant in die Engelse Oorlog en word na afloop daarvan ‘n vermoënde man. In 1914 word hy stigterslid van die Nasionale Party en in 1915 Volksraadslid daarvan. Hy was ‘n goeie vriend van pres. Steyn. Aka fak P.G.N

1873
Ds. J.F. Naude gebore

Jozua Francois Naude is in Middelburg, Kaap, gebore. Na sy opleiding as onderwyser in Kaapstad, gee hy onderwys aan die Goeie Hoopskool in Germiston. Gedurende die Engelse Oorlog is hy veldprediker, veral by generaal Beyers, op wie hy ‘n sterk invloed uitoefen. Sy oorlogservarings en belangrike foto’s publiseer hy daarna in sy boek Vechten en Vluchten. Na die oorlog word hy predikant van die NG Kerk en staan in die volgende gemeentes: Roodepoort, Piet Retief en Graaff-Reinet. As skriba van die Transvaalse Sinode, skryf hy die eerste notule in Afrikaans. Hy was ook lid van die Kommissie vir die Afrikaanse Bybelvertaling en het hom van harte aan die bevordering van Afrikaans gewy. As onvermoeide kampvegter vir moedertaalonderwys, het hy in 1918 ‘n reuse-aandeel in die stigting van die eerste Afrikaanse laerskool in Transvaal, op Roodepoort, wat vandag sy naam dra, en op Graaff-Reinet het hy die eerste Afrikaansmediumskool in Kaapland, nl. Die Hoër Volkskool (Junie 1920) gestig. Hy was ook die eerste predikant wat Afrikaans van die Kansel in Graaff-Reinet se kerk gebruik het. As kerkman, volksman en onderwysman, was hy ‘n baanbreker. Hy is op 27 Augustus 1948 op Graaf-Reinet oorlede. Aka fak P.F.D.W

1950
D.C. Boonzaier oorlede

Daniël Cornelis Boonzaier, wat op 11 November 1865 op Patatsrivier, distrik Carnarvon, gebore is, is op hierdie dag in Kaapstad oorlede. Boonzaier, wat aanvanklik ‘n klerk was, word in 1899 die eerste amptelike spotprenttekenaar in Suid-Afrika verbonde aan ‘n koerant, en hy het ‘n aktiewe en suksesvolle loopbaan gehad. Hy is verder veral bekend vir sy ondersteuning van kunstenaars soos Wenning en Kottler. Aka fak A.J.W