2008/03/19

Maart 19



1906
Die Afrikaner wil voortleef


“Dit is asof die Here ons patriotisme nou dat ons uitgeroei is, beproef om te sien hoe sterk ons nasionaliteit is. Weet dit: as God u as Afrikaners in die wêreld gebring het, verwag Hy ook dat u as Afrikaner sal sterf.” So het genl.. Beyers, volgens ‘n berig op die dag in de Volkstem in Pretoria gesê. Dit was kenmerkend van verskeie uitsprake deur politieke en kerklike leiers in die donker jare na die Engelse Oorlog oor die Afrikaner se wil om voort te leef. Ds. H.S. Bosman sê in sy groete boodskap van die Transvaalse Kerk aan die Kaapse Sinode: “Ons Kerk is onder, maar niet dood . . . ons volk is onder, maar niet dood.” Ds. H.C. de Wet: “Wij blijven Afrikaners.” En Genl. C.R. de Wet, die vasberade bittereinder, het met pres. Kruger se begrafnis op 16 Desember 1904 gesê: “Onze plicht is het te strijden voor de toekomst.” FAK

1953
Luit.-kol. H.C. Bredell oorlede


Hermanus Christian (Manie) Bredell is op hierdie datum bykans onopgemerk op sy plaas Zonneheuvel, distrik Marquard, oorlede. Voor sy aftrede op 31 Desember 1926 was hy Sekretaris en Hoof-adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie. Manie Bredell sal egter veral onthou word vir die noue verbintenis waarin hy met pres. Kruger gestaan het tydens laasgenoemde se laaste lewensjare in Europa. Tydens die bykans vier jaar het Bredell feitlik onafgebroke by Paul Kruger gebly en hom op sy verskillende reise vergesel – eers as lyfwag en na Oktober 1901 ook as private sekretaris. Soms het Bredell se eie persoonlike ambisie, sy frustrasie en die begeerte om na Suid-Afrika terug te keer en daadwerklik aan die wapen stryd deel te neem, hom byna te magtig geword, tog het hy sy pligte ten opsigte van pres Kruger tot op die laaste met sy kenmerkende bekwame pligsgetrouheid nagekom. Uit hierdie tyd dateer sy dagboek (gepubliseer deur die RGN in 1972) waarin hy insiggewende besonderhede vermeld van die huishouding van die President, sy laaste lewensdae, en veral ten opsigte van die persone wat die naaste aan Paul Kruger in die jare van sy ballingskap gestaan het. Saam met P.G.W. Grobler was Bredell ook verantwoordelik vir die teboekstelling van die Gedenkskriften van Paul Kruger wat in 1902 gepubliseer en in verskeie tale vertaal is. aka fak M.H