2008/03/18

Maart 18


1834
Maria Koopmans-De Wet gebore


Maria Margaretha Koopmans-De Wt is in Kaapstad gebore uit een van die vooraanstaande Kaapse families. As jong dogter is sy aangegryp deur die lotgevalle van die Voortrekkers, die totstandkoming van die twee Boererepublieke en die Anti-Bandiete beweging – almal gebeurtenisse wat bygedra het om ‘n vurige patriotisme te ontwikkel. Haar woning in Strand straat 23 het die bymekaarkomplek geword van vooraanstaande Kaapse persone en selfs Boere presidente. Sy het daarna gestreef om die Kaaps-Hollandse tradisies en leefwyse in ere te hou deur haar te beywer vir die bewaring van die volkseie, beskerming van die inheemse flora en die bewaring van die Kasteel. Sy lewer ook ‘n wesenlike bydrae tot die uitbouing van die Hollandse taal, aar dit was veral tydens die Engelse Oorlog dat haar volksdiens tot ‘n hoogtepunt uitgevoer is. Haar woning het terselfdertyd die versamelplek geword van goedere wat vir Boerekrygsgevangenes en die Konsentrasiekampe bestem was. Sy is op 2 Augustus 1906 oorlede. Aka fak G.J.J

1880
Volks byeenkoms by Kleinfontein

Op die volks byeenkoms by Wonderfontein op 10 Januarie 1879 het die Transvaalse burgers dit duidelik gestel dat hulle nooit gewillig aan Britse gesag sou onderwerp nie. Piet Joubert is daarop deur die burger komitee na Natal afgevaardig om die Britse Hoe Kommissaris, sir Bartle Frere, wat hom op daardie tydstip aldaar bevind het, oor die Transvalers se gevoelens in te lig. Joubert moes egter onverrigte sake terugkeer, want Frere het openlik verklaar dat, ofskoon hy bereid is om ‘n “liberale” grondwet aan Transvaal toe te ken, daar geen sprake was van ‘n terugkeer tot die toestand voor die anneksasie nie. Hy was egter bereid om na Transvaal te kom om hom persoonlik op die hoogte van sake te stel. Gevolglik is ‘n volksvergadering op die plaas Kleinfontein vir 18 Maart belê, wat deur tussen vier- en vyfduisend burgers bygewoon is. By sy aankoms is Frere deur die Boere voormanne te perd tegemoet gery en na die tent van die burger komitee begelei. Ofskoon die Hoë Kommissaris die Transvalers, wat dig opmekaar gestaan het, links en regs gesalueer het, het die burgers ‘n doodse stilswye bewaar. By die samesprekings met die burger komitee is tot ‘n herontmoeting na enkele dae besluit, en op die vasgestelde dag het Frere, vergesel van die Britse Administrateur van Transvaal, sir Owen Lanyon, die volks byeenkoms by Kleinfontein ‘n tweede keer besoek. Weer eens moes die Hoë Kommissaris verneem at die volk die Britse anneksasie van Transvaal nooit sou aanvaar nie, en Frere moes erken dat Brittanje nie juis ingelig was omtrent die gevoelens van die Transvalers nie. Hy het hom bereid verklaar om die burgers se besware aan die Britse regering oor te dra, maar persoonlik was hy vir die behou van die anneksasie. Na die byeenkoms by Kleinfontein het die burger komitee kennis gegee dat ‘n tweede volksvergadering by Wonderfontein sou plaasvind. Aka fak M.H

1883
Prof T.H. le Roux gebore

Thomas Hugo le Roux, gebore op Worcester, was een van die vroeë taalgeleerdes wat op die Afrikaanse taalkunde ‘n aansienlike invloed uitgeoefen het. Gedurende die 51 jaar at hy lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns was, lewer hy ‘n reusebydrae onder meer in reëls vir korrekte skryfwyse in Afrikaans, en in 1959 ontvang hy ‘n eredoktorsgraad (D. Litt.et Phil.) van Unisa. Hy is op 17 November 1970 oorlede. Aka fak D.J.C.G

1950
Stigting van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat

Reeds in 1896 het pres M.T. Steyn die ideaal van ‘n selfstandige universiteit vir die Vrystaat gekoester. In 1899 besluit die Volksraad om in samewerking met die ZAR ‘n eie republikeinse inrigting vir hoër onderwys tot stand te bring. Die uitbreek van die Engelse Oorlog sou die verwesenliking van hierdie ideaal egter verhinder. Intussen het dr. Johannes Brill, rektor van die Greykollege, verskeie van sy matrikulante vir die Intermediêre Eksamen van die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop opgelei, wat die grondslag gevorm het vir die stigting van die Grey-Universiteitskollege in 1904 deur die Oranjerivier-Kroonkolonieregering. Byna ‘n halwe eeu sou die GUK ‘n klein en versmaaide inrigting bly, omdat die Vrystaters verkies het om hul seuns en dogters na ander inrigtings te stuur en ook vanweë die feit dat die GUK se beleid en voertaal nie deur en deur Afrikaans was nie. Om die inrigting ‘n sterker Vrystaatse karakter te gee, is die naam van die inrigting in 1935 in die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat verander. Sedert 1918 het die inrigting ‘n samestellende kollege van die Universiteit van Suid-Afrika uitgemaak, wat na die Tweede Wêreldoorlog die meeste van sy kolleges as selfstandige universiteite moes afstaan. Na die oorlog is die langdurige stryd om die inrigting ‘n suiwer Afrikaner- en Christelik-nasionale karakter te gee, gewen. Die studentetal het snel begin groei, en op grond van die gehalte van doseer werk en navorsing aan die inrigting, het ‘n Gekose Komitee in 1949 by die Volksraad aanbeveel dat die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat ‘n volwaardige en selfstandige universiteit moet word. ‘n Jaar later, nl. Op 18 Maart 1950, het die Universiteit van die Oranje-Vrystaat formeel tot stand gekom en sedertdien van krag tot krag gegroei. Aka fak M.C.E.v.S