2008/03/17

Maart 17


1863
F.V Engelenburg gebore


Frans Vredenrijk Engelenburg is in Arnhem gebore as seun van ‘n welgestelde Hollandse familie. Hy verwerf sy doktorsgraad in 1887 in Leiden en kom in 1889 na Suid-Afrika. Hy word in dieselfde jaar aangestel as redakteur van De Volksstem. Nadat hy gedurende die Engelse Oorlog deur die Engelse owerheid uit Natal verban is, toer hy twee jaar lank deur Europa. Hy keer in 1903 terug na Pretoria, nadat hy dr. W.J. Leyds in Europa behulpsaam was met ‘n inligtingsdiens oor die oorlog in Suid-Afrika, en hervat sy redakteurskap van De Volkstem. In 1904 was hy stigterslid van Het Volk, die politieke party van die Transvaalse regering. Hy was in 1909 lid van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Vredeskongres in Parys. Dr. Engelenburg was ‘n belese man wat geglo het dat objektiewe beriggewing die toetssteen van goeie joernalistiek is. Nie alleen was hy as joernalis goed toegerus vir sy taak nie, maar sy artikels toon ook dat hy openbare mening kalm en sonder onnodige vooroordeel kon weergee. As stigterslid van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst laat hy na sy dood op 21 Augustus 1939 sy woning aan die volk na. Die Akademie se hoofkwartier is daar gesetel. Die Engelenburg-huis is ‘n museum, met die Akademieraad as kurator. Aka fak D.J.C.G

1951
PU vir CHO kry volwaardige universiteit status

Op die dag het die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys sy status as volwaardige, selfstandige universiteit verkry. Hierdie Universiteit se beginjare lê baie ver terug, want hy het sy ontstaan uit die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, wat op 29 November 1869 op Burgersdorp, Kaapland, opgerig is. Naas teologiese opleiding, het hierdie skool literariese opleiding verskaf, ook aan studente wat nie predikante wou word nie. In 1876 is die sogenaamde Literariese Departement aan die Teologiese Skool in die lewe geroep om die opleiding te verskaf. Dit is gedoen totdat veranderde omstandighede en probleme as gevolg van die universiteit wetgewing van 1916, die Gereformeerde Kerk gedwing het om die Teologiese Skool en die Literariese Departement van mekaar te skei en laasgenoemde in 1919 om te vorm tot ‘n aparte universiteitskollege – “Het Potchefstroomse Universiteitskollege voor Kristelike Hoger Onderwijs” - onder beheer van ‘n eie raad!

Soos sy van aandui, was dit ‘n universiteitskollege met ‘n bepaalde doel: om Christelike hoër onderwys te verskaf. Die sogenaamde gewetensklousule, vervat in die 1016-wet, het dit vir die PUK vir KHO onmoontlik gemaak om van die regering subsidie te ontvang, veral toe noodsaaklikerwys pogings in die werk gestel is om die Kollege by die Universiteit van Suid-Afrika te inkorporeer. Dit het in 1921 geskied, maar teen die prys van verlies van sy van, naamlik “vir KHO”. Naas die voortsetting van sy universitêre werk, onder werklik moeilike omstandighede, het die destydse rektor, prof. dr. F. Postma, bygestaan deur prof. J.D. du Toit, ander Potchefstroomse kollegas en vorige ondersteuners en gewaardeerde medewerkers dwarsoor die hele land geen steen onaangeroer gelaat om die volle naam van due Universiteit herstel te kry nie. Dit het na lange stryd in 1933 gebeur, toe die naam van die inrigting deur wetgewing herstel is tot Die Potchefstroomse Universiteitskollege vir Christelike Hoër Onderwys. Na hierdie naamsherstelling het die PUK vir CHO sy werksaamhede as samestellende kollege van die Universiteit van Suid-Afrika voortgesit en het die inrigting, ten spyte van ernstige geldelike kwellinge, veral na 1945 so uitgebrei dat saam met ander samestellende kolleges van die Universiteit van Suid-Afrika in 1947 die eerste stappe in die rigting van selfstandigwording gedoen is. Hierdie ideaal is op 17 Maart 1950 verwesenlik na ‘n spanningsvolle stryd om die selfstandige universiteit vrygestel te kry van die gewetensklousule en sy Christelik-historiese karakter en roeping in sy wet deur die Regering van die land erken te kry. Aka fak J.S.d.P