2008/03/14

Maart 14

1895
Hollandse Mannekoor in Pretoria gestig


Hierdie koor het ontwikkel uit De Hollandsche Club, wat op hierdie dag in Pretoria gestig is. Die klub het sy naam op 25 April 1895 verander in De Hollandsch Mannekoor, met ‘n meer bepaalde doel: om die Hollandse taal deur sang te bevorder en daardeur die samewerking en gesellige verkeer van alle Hollanders in Pretoria te bewerkstellig. Dirk Balfoort het hom laat oorreed om as direkteur op te tree. Reeds in Augustus 1895 is die eerste uitvoering gegee. Die koor was herhaaldelik vir liefdadigheid in Pretoria diensbaar. Met Balfoort se vertrek na Europa word M. de Groot die koorleier. Die koor het uit 26 werkende lede en sy direkteur bestaan en ‘n foto uit 1898 bestaan van die geselskap. Tydens die Engelse Oorlog is die koor se werksaamhede tydelik gestaak, maar in 1903 het hy herleef onder voorsitterskap van W.J. Neijenes, later H. Visscher en nog later H. van Bommel. Die tienjarige bestaan is op 27 en 28 April 1905 feestelik herdenk. Die koor het ‘n vaandel met bybehorende kas besit, en hierdie vaandel word tans in die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut aan die Universiteit van Pretoria bewaar. Dirk Balfoort het ‘n sangstuk, getitel Liever dood dan onderworpen vir die koor gekomponeer. Hier5die koor het in die negentigerjare van die vorige eeu ‘n lewendige rol gespeel in die kultuurlewe van Pretoria. Aka fak P.G.N

1897
G.J.Th. Beelaerts van Blokland oorlede

Gerhard Jacob Theodoor Beelaerts van Blokland gebore op 12 Januarie 1843 het hom vanaf 1881 vir die saak van die Transvaalse Boere beywer by sy vriende in Nederland, Engeland en Amerika. Hy was medestigter van die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging, met die doel om belangstelling in en hulp vir doe Boererepublieke wakker te hou . aka fak P.G.N.

1922
Die Randse staking finaal beëindig

Die rampspoedige gebeurtenisse aan die Witwatersrand die eerste drie maande van 1922 het in hoofsaak gewortel in die onvermoë van laegraadse goudmyne om met produksiekoste tred te hou, terwyl die goudprys ‘n dalende neiging getoon het. Die Kamer van Mynwese moes derhalwe kies tussen loonverlaging vir mynwerkers of die opheffing van die sogenaamde status quo-ooreenkoms, wat sekere werk vir blankes gereserveer het. ‘n Loonverlaging kon nie die laegraadmyne red nie, en die opheffing van die status quo-ooreenkoms is dus oorweeg. Loonverlaging is terselfdertyd by steenkoolmyne en by enkele groot maatskappye ingestel, en dit het ‘n kollektiewe gees van verset by die werkers laat posvat. Die Suid-Afrikaanse Industriële Federasie, spreekbuis van die werkers, het aan die begin van Januarie 1922 ‘n algemene staking afgekondig, ‘n gebeurtenis waarby ook die Randse Afrikaner nou betrokke geraak het, aangesien baie mynwerkers Afrikaners was. Die Eerste Minister, genl. J.C. Smuts, se pogings om die staking te beëindig, was onsuksesvol en sy verklaring dat die regering hom nie sou inmeng nie, maar die vegtende partye die saak sou laat uitveg, het hom as ‘n onsimpatieke bemiddelaar by die stakers gebrandmerk. Etlike skikkings pogings het daarna misluk, en toe die SA Industriële Federasie vroeg in Maart nie meer deur die Kamer van Mynwese erken is nie, het ‘n revolusionêre groep Kommunistiese agitators, die sogenaamde Council of Action, beheer oor die stakers verkry. Geweld het spoedig begin hoogty vier, en veral sedert 8 Maart het onluste toegeneem: die Kaapse hooflyn trein is ontspoor, motors is in strate omgekeer, swartes is aangeval en die polisie het gaandeweg die inisiatief begin verloor. Die afkondiging van krygswet het geen uitwerking op die geweldpleging gehad nie, en sake het eers ‘n wending geneem nadat genl. Smuts persoonlik beheer oor die militêre magte oorgeneem het. Spoedig is toestande aan die Oos- en Wes-Rand genormaliseer, terwyl Fordsburg, die laaste vesting van die stakers, op 14 Maart verower en die staking daarmee beëindig is. Smuts se optrede het hom die wrewel van sy politieke bondgenootskap tussen die Nasionale Party en die Arbeidersparty, wat deur adv. Tielman Roos aangevoor is. Hierdie bondgenootskap het daartoe gelei dat die party wat die aspirasies van die Afrikaner verteenwoordig het, veertien jaar na sy stigting met die hulp van sy Arbeider bondgenote aan die bewind gekom het. aka fak J.P.B.

No comments: