2008/03/15

Maart 15

1827
Jan Orrelis de Villiers gebore

Jan Stephanus (Jan Orrelis) de Villiers wat as die eerste Afrikaanse komponis van belang beskou word, is in die Paarl gebore. Sy eerste musiekonderwyser was die Stellenbosse (en later Paarlse) orrelis, Pieter Hugo. Vanaf 1840 het hy in Kaapstad lesse in klavier, viool, harp en orrel ontvang, waarskynlik van die bekende Kaapse orrelis Frederick Logier. In 1847 begin hy dan in die Paarl met sy werksaamhede as musiekonderwyser, komponis en, as opvolger van Pieter Hugo, orrelis van die Strooidak kerk. As uiters deeglike musiekonderwyser het hy ‘n groot bydrae gelewer tot die opvoeding van die jeug, eers deur private lesse, later aan die Paarlse Gimnasium en vanaf 1872 in sy eie “Ladies Seminary”, die voorloper van die Hoër Meisieskool La Rochelle. As ywerige koorleier en orrelis (vanaf 1875 aan die afgestigte gemeente Noorder-Paarl), het hy weliswaar sterk onder invloed van die negentiende-eeuse Engelse geestelike lied, in samewerking met sy neef Rocco de Villiers, in opdrag van die Sinode gewerk aan die verbetering van die kerksang, en oratoriums (o.m. Epiphanie), orrelwerke en Psalmmelodieë gekomponeer. Sy musiek by die reeks toesprake van ds. S.J. du Toit oor die Onvervulde Profesieë (1878) kan as die begin van die geestelike kantate in die NG Kerk beskou word. Verder komponeer hy ‘n groot aantal geleentheid komposisies vir verskillende vokale en instrumentale besetting n.a.v. gebeurtenisse van nasionale en internasionale belang. Aan die GRA het hy daadwerklike steun verleen en o.m. melodieë geskryf vir ‘n Ieder nasie het sy land en vir Die Vierkleur. Hy was getroud met Johanna Maria Wilhelmina van der Lingen. Hulle twee dogters, Nancy de Villiers en Elizabeth (Von Willich), was in 1905 medestigters van die Konservatorium op Stellenbosch. Jan Orrelis is op 2 Mei 1902 in die Paarl oorlede. Aka fak R.E.O

1874
W. Postma gebore

Willem (dr. O’kulis) Postma was ‘n Gereformeerde predikant, baanbreker skrywer en streng Calvinis. In Bloemfontein beywer hy hom vir die erkenning van Afrikaans as taal en voorspel dat Afrikaans een van die amptelike tale van Suid-Afrika sal word. Hy het as CNO-man die Engelse Onderwysstelsel in die OVS heftig teëgestaan. Gevolglik stig hy die eerste CNO-skool in 1905 in die voorportaal van die Gereformeerde Kerk, Bloemfontein. In 1916 word hy voorsitter van die provinsiale onderwyskommissie in die OVS. Op die eerste vergadering van die Bybelvertalings kommissie (22November 1916) verteenwoordig hy die Gereformeerde Kerk en in dieselfde jaar verskyn uit sy pen ‘n vertaling in Afrikaans van die Nuwe Testamentiese boek Titus. In 1914 word hy die regterhand van genl. J.B.M. Hertzog tydens die stigting van die Nasionale Party. In 1909 verskyn sy werk, Die esels kakebeen. Hy is op 13 Desember 1920 op Reddersburg oorlede. Aka fak D.E

1961
Dr. Verwoerd en die Statebond

By monde van sy Eerste Minister, dr. H.F. Verwoerd, word Suid-Afrika se aansoek om as republiek lid van die Britse Statebond te bly, op hierdie dag teruggetrek. Daarmee is die intensiewe pogings om die Statebond in sy ou vorm te laat voortbestaan, finaal verydel. Die aansoek om lidmaatskap te behou, is gedoen vanweë ‘n belofte deur dr. Verwoerd aan die Volksraad dat hy sou trag om die republiek lid van die Statebond te hou, met die oog op die instandhouding van blanke solidariteit in Suid-Afrika. Groot-Brittanje het onder aanvoering van sy Eerste Minister, mnr. Harold MacMillan, alles in sy vermoë gedoen om Suid-Afrika se lidmaatskap te verseker. Die Afro-Asiatiese blok, bygestaan deur Kanada en Nieu-Seeland, het egter onwrikbaar op hul eis bly aandring dat Suid-Afrika sy binnelandse beleid geheel moet verander as hy lid wil bly. “Ek was geskok en oorweldig deur die vyandige gees wat hier teenoor Suid-Afrika geheers het,” het dr. Verwoerd in sy afskeidstoespraak gesê: “Die teenstand is gebaseer op die sogenoemde diskriminasie wat ons in Suid-Afrika beoefen. Maar dit was juis afkomstig van lande waar verdrukking en diskriminasie welig voort-tier, en waar die beginsels van die so geroemde demokrasie afwesig is. Dit is duidelik dat die Statebond in sy hele wese verander het om hom nou die reg toe-eien om aan ander voor te skryf. Ek voorspel dat ons vandag die einde gesien het van die ou Statebond.” Aka fak P.G.J.M

No comments: