2008/03/12

Maart 12

1815
C. Moll gebore


Cornelis Moll, vier-en-twintigste kind van Cornelis Moll van Nieuwendam, en Anna Sophia Nijhoff, word op hierdie dag in Kaapstad gebore. Nadat hy sy eerste drukkersaak in Kaapstad begin maar insolvent geraak het, het hi in Maart 1844 na Natal verhuis, waar hy die eerste koerant De Natalier begin het. Hy is deur pres. M.W. Pretorius oorreed om na die ZAR te gaan, en in 1857 rig hy ‘n drukpers te Potchefstroom op. Hier het hy die eerste Transvaalse staatskoerant gedruk, maar as gevolg van meningsverskille met die owerheid, koop die regering spoedig die pers. Daarna dien hy as staatsekretaris en staatsprokureur, later as landdros van Pretoria en selfs as Volksraadslid. Met sy vele talente, maar rustelose geaardheid, kon hy baanbrekerswerk in die drukkersbedryf in drie gewestes verrig. Oorlede op 25 April 1880 op Nylstroom. Aka fak J.C.M

1871
Sen. F.S. Malan gebore

Francois Stephanus Malan is op Bovlei by Wellington gebore. In sy lang openbare loopbaan het hy op haas elke gebied van die volkslewe ‘n noemenswaardige bydrae gelewer. As redakteur van Die Patriot en Ons Land, vooraanstaande Kabinetslid en gesiene kerkman, het hy die Afrikaanse taal bevorder, en sedert 1924 tot sy afsterwe op 31 Desember 1941 het hy as kultuurleier, onder meer as voorsitter van die Afrikaanse Taalbond, ‘n vername rol gespeel. Hy was onder meer ‘n stigterslid van die FAK. Aka fak P.S.d.J.

1894
W.A. van Warmelo gebore


Willem Lambertus van Warmelo emigreer na SA in 1939 en word veral bekend vir sy versameling en dokumentering van Afrikaanse liederwysies, wat verskyn in twee publikasies, nl. Afrikaanse Liederwysies (1948) en Liederwysies van Van’s Lewe (1958). Hy keer in 1962 terug na Holland. Aka fak C.L

1913
Kmdt. C.C. Froneman oorlede


Christoffel Cornelis Froneman, gebore op 26 Maart 1846, het op jeugdige ouderdom aan die laaste Basoeto-oorlog deelgeneem en dwarsdeur die Engelse Oorlog as Vrystaatse kommandant en assistant-hoofkommandant aktief en dapper die stryd meegemaak. As een van die Vrystaatse afgevaardigdes by die vredesonderhandelings by Vereeniging, verklaar hy dat hy kans sien om minstens nog ‘n jaar aan die stryd deel te neem. Na die oorlog vestig hy hom in die distrik Marquard waar hy hom beywer vir die stigting van die dorp Marquard. Aka fak J.C.M.

1960
Bartholomeu Dias-standbeeld onthul

Bartholomeu Dias de Novaes was ‘n Portugese ontdekkingsreisiger wat die koninklike opdrag gehad het om die lang soektog na ‘n seeroete na Indië suidwaarts langs die Weskus van Afrika suksesvol af te rond. Van die triomf dat hy Kaappunt wel omseil het, was hy as gevolg van stormwinde onbewus. In Desember 1487 was die ongeveer 37-jarige Dias nog regoor Luderitz baai, en in Februarie 1488 het hy by Visbaai digby Mosselbaai aan land gegaan. Daarna is verder geseil. Sy bemanning het hom kort hierna verplig om terug te keer. Met die terugreis het hy sy klipkruis, die padrao van St. Gregorius, naby die mond van die Boesmansrivier in die distrik Alexandria by Kwaaihoek geplant. Prof. Eric Axelson het die brokstukke van hierdie oudste baken van ons Europese erfenis in April 1938 ontdek. Die herstelde kruis is tot historiese gedenkwaardigheid verklaar en staan by die Universiteit van die Witwatersrand. ‘n Afgietsel is op die terrein self aangebring. Dias het in Mei 1500 ‘n onbekende watergraf in die Kaapse see gevind toe hy ‘n lid van Pedro Cabral se vloot na Indië was. ‘n Standbeeld vir Dias deur prof. Barata Feyo is op 12 Maart 1960 in die tuin voor die Kunsmuseum in Kaapstad onthul. Aka fak M.J.S.

No comments: