2008/03/11

Maart 11

1843
C.P. Hoogenhout gebore

Casper Peter Hoogenhout is in Amsterdam, Holland, gebore en op 13 Januarie 1922 naby Wellington oorlede. In 1860 het hy in Kaapstad aan wal gestap. Onder leiding van dr. Arnold Pannevis bekwaam hy hom as onderwyser, en meer as 40 jaar lank hou hy skool op Groenberg naby Wellington. Hy was van die begin van die Afrikaanse Beweging ‘n sterk voorstander en voorvegter vir Afrikaans; op 14 Augustus 1875 was hy een van die agt stigters van die Genootskap van Regte Afrikaners. Hy was een van die belangrikste Afrikaanse prosaskrywer voor 1900. Die tweede Afrikaanse prosaboek is deur hom geskrywe: Die Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse Kinders en Huisouwens (1873), en die eerste Afrikaanse novelle: Catharina, die Dogter van die Advokaat (1879). Van al die digters voor 1900 het hy die meeste gedigte in Afrikaans geskrywe, en sommige van hulle is juweeltjies van volkskuns. Aka fak P.J.N

Meer oor:
CASPER(US) PETER (PETRUS) HOOGENHOUT (1843-1922)


C.P. Hoogenhout is op 11 Maart 1843 te Amsterdam, Nederland, gebore as die oudste seun van Nicolaas Hoogenhout en sy vrou Wynanda Elizabeth Imker, en op 13 Januarie 1922 op Optenhorst, Wellington, oorlede. Hy was onderwyser en hoof van die Groenbergskool, een van die vroeë Afrikaanse skrywers en een van die leiers van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging.

Op dertienjarige ouderdom verloor hy sy moeder. Hy is nie gelukkig by sy stiefmoeder nie en verhuis na Suid-Afrika waar hy in 1860 in Kaapstad by die Nederlandse konsul werk kry. Spoedig na die aankoms van Arnoldus Pannevis in Julie 1866 raak Hoogenhout met hom bevriend en word deur hom as onderwyser opgelei. Kort voor 1870 begin hy op Groenberg naby Wellington sy byna veertigjarige loopbaan as onderwyser.

Hoogenhout en Pannevis, wat albei Hollanders was, is die eerste persone wat propaganda maak vir die gebruik van Afrikaans as skryftaal, veral omdat hulle die Bybel in dié taal wou vertaal. Die eerste proef van so ’n vertaling, Mattheüs 28, is van die hand van Hoogenhout. Op 12 April 1873 pleit hy in ’n brief aan De Zuid-Afrikaan vir ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel; hierdie brief is tegelyk ook ’n pleidooi vir die gebruik van Afrikaans as skryf-taal. Sy vertaling van Markus (1878) is nooit gepubliseer nie.
Met “Klaas Waarsegger Jr.” as skuilnaam begin hy op 26 Julie 1873 in dieselfde blad met sy reeks van elf “Gesprekke tussen oom Jan Vasvat en neef Daantje Loslaat” waarin hy sy propaganda vir Afrikaans voortsit; die inhoud, taal en gees is suiwer Afrikaans, en hy skrywe oor onderwyssake, Afrikaans as Bybeltaal en ook oor die politiek, want hy wil die Afrikaners wakker skud op nasionale gebied en hy slaag daarin om baie Afrikaners se oë te open.

Na aanleiding van die briewe van “Een ware Afrikaander” (S.J. du Toit) in De Zuid-Afrikaan (8, 11 en 12 Julie 1874) bespreek Hoogenhout, Du Toit en andere die opstel van spelreëls, ’n Afrikaanse geskiedenisboek asook ’n volkslied. Na hierdie voorbereidingswerk skryf Pannevis aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap en pleit vir ’n Afrikaanse Bybel; dit lei tot die stigting op 14 Augustus 1875 in die Paarl van die Genootskap van Regte Afrikaners, waarvan Hoogenhout een van die agt stigters is.

Die eerste hoofartikel van die Genootskap se eie koerant, Die Afrikaanse Patriot (15 Januarie 1876), is die werk van Hoogenhout en S.J. du Toit. Aan die volkslied “Een ieder nasie het syn land” wat in dié koerant verskyn, het Hoogenhout ook ’n groot aandeel. Hy is tot 1877 een van die redakteurs en later die letterkundige redakteur wat die voorgelegde gedigte nasien en opknap; aldus oefen hy groot invloed uit op die eerste digters. Hy moedig hulle op simpatieke wyse aan en hulle ontdek dat hulle net “lekker kan rym”. Van die gedigte in Die Patriot stel hy sewe bloemlesings saam en in 1878 verskyn die eerste in druk. Hoogenhout gaan voort met die skryf van die hoofartikels in dié koerant, maar na die politieke ommeswaai van ds. S.J. du Toit verbreek hy en Oom Lokomotief (D.F. du Toit) hul verbintenis met die blad in 1902.

Hoogenhout se bydrae tot die Afrikaanse letter-kunde is aansienlik. Die derde boek in Afrikaans, en tewens die eerste kinderboek, is van sy hand: Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens, in hulle eige taal geskrywe deur een vriend (1873). Dit is bedoel as voorbereiding vir die groter werk van Bybelvertaling en omdat die Nederlandse Bybel veral vir kinders moeilik verstaanbaar is, vertel hy die Josef verhaal in eenvoudige Afrikaans, boeiend en interessant.

Saam met S.J. du Toit en G.J. Malherbe skryf hy die eerste Afrikaanse geskiedenisboek, Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk (1877), en twee jaar later verskyn die eerste novelle in Afrikaans, Catharina, die dogter van die advokaat, onder sy skuilnaam “Klaas Waarsegger Jr.” In hierdie werk wat van kultuurhistoriese belang is, maak hy openlik propaganda vir die Afrikaanse taal en kultuur en vir ’n eie Afrikaanse lewensbeskouing. In 1879 verskyn ook sy Eerste printjies boeki ver soet kinders. Hy vertaal ook boeke uit Nederlands: De wege des Heeren met George Muller (1882) en saam met E.J. du Toit Die vinger Gods en sewe ander verhale (1884). Baie gewild was sy reken-boek in Nederlands, Uw en mij cyfer-boekje (1882).

Pres. F.W. Reitz het Hoogenhout tereg die Jacob van Maerlant van die Afrikaanse digters genoem, want tydens die Eerste Taalbeweging maak hy die meeste gedigte en sommige is inderdaad juweeltjies van volkskuns; veral bekend is “Waer Tafelberg begin tot vêr in die Transvaal...”, “Engels, Engels, alles Engels wat jy siet en hoor” en “Uitnodiging an Annie”.

In 1908 tree Hoogenhout met pensioen af en woon tot sy dood op Optenhorst, Boven Vallei, Wellington. Hy is op 29 Maart 1875 getroud met Catharina Maria Marais (25.6.1847 - 31.10.1942); uit hulle huwelik is ses kinders gebore, van wie twee bekendheid verwerf: dr. N.M. Hoogenhout, taalkundige en onderwyshoof en P. Imker Hoogenhout, wat ambassadeur in Nederland geword het.

Op 11 Maart 1955 het die Afrikaanse skrywers-kring, onder die voorsitterskap van dr. P.C. Schoon-nees, in die Bovleise kerkhof ’n gedenkplaat ter ere van C.P. Hoogenhout onthul. Prof. F.E.J. Malherbe het by dié geleentheid gesê dat dit vir Hoogenhout allermins gegaan het om deur sy geskrifte kuns te lewer, maar om die behoud van sy volk. Hy was ’n man van diepe Godsvrug met ’n vurige liefde vir sy aangenome vaderland.
http://www.agrisa.info/assets/dynamic/86/files/28_23-000_hoofstuk_23__alombekende_wellingtonners.doc

1910
Ontwikkeling van die Taalbond

Die pogings wat gedurende die eerste dekade van hierdie eeu aangewend is om Afrikaans te handhaaf en verder uit te bou, word duidelik weerspieël in die jaarverslag van die Taalbond se sekretaris wat gepubliseer is in De Zuid-Afrikaan van 11 Maart 1910. In die jaarverslag is besondere hulde gebring aan die nagedagtenis van J.H. Hofmeyr wat gedurende sy lewe van groot betekenis van die Taalbond was. Om dit in permanente herinnering te roep is besluit om ‘n bydrae tot die “Hofmeyr Gedenkteken Fonds” te maak, terwyl die vier eerste pryse van die vier Taalbondeksamens mettertyd ook as die Onze Jan Taalbondpryse bekend sou staan. Dit is opvallend hoe die groeiende taalgevoel onder Afrikaners ook uitgekristalliseer het in groter deelname in die aktiwiteit van die Taalbond. In 1908 het 3 300 kandidate ingeskryf vir die Taalbondeksamens – in 1909 het dit tot 4000 gestyg. Gedurende die voorafgaande sewe jaar het die getal kandidate byna verviervoudig – ‘n teken van die lewenskragtigheid van die Tweede Taalbeweging. Hierdie groei en lewenskragtigheid het verder ook tot uiting gekom in die stigting van die ZA Akademie. Die Taalbond was verheug oor die totstandkoming van die Akademie en was bereid om met die Akademie saam te werk – selfs daarin op te gaan as dit nodig was. Ten einde handhawing van die taalregte van die Afrikaner te bestendig en uit te brei, is die aandag ook toegespits op die onderwys. Die Opvoedings-Gazette is aan Afrikaners gestuur, terwyl geskikte persone benoem is “om voor die belangen van onze taal op onderwijsgebied op te treden” in die regeringsopvoedingskommissie wat kort tevore aangestel is. aka fak G.J.J

No comments: