2008/02/25

Februarie 25

1807
Johanna Magaretha Duminy oorlede

Johanna Magaretha Duminy, gebore in Kaapsstad op 29 Junie 1757, was die bekende Kaapse dagboekskryfster, dogter van Benjamin Nöthling en getroud met die Franse skeepskaptein, Francois Renier Duminy. Teen die einde van die agtiende eeu woon hulle in hul huis, Le Jardin, teen die hange van Tafelberg, waar sy noukeurig boekhou van haar uitgawes. Dit bied ‘n goeie insig in die daaglikse lewe van ‘n betreklik welvarende Kaapse gesin. Johanna Duminy het veral bekendheid verwerf danksy haar dagboek – waarvan slegs ‘n klein gedeelte bewaar gebly het – en wat sy op hulle Overbergse plaas, Bokkerivier, en op die warm bron naby Caledon geskryf het. Die dagboek het groot kultuurhistoriese waarde, omdat dit lig werp op die taalgebruik aan die Kaap teen die einde van die agtiende eeu en ook die daaglikse lief en leed van die Overbergers op lewendige en humoristiese wyse uitbeeld. Sy is op Caledon oorlede. Aka fak P.G.N

1902
Oorwinning by Ysterspruit

Op die oggend van 25 Februarie 1902 is ‘n verrassingsaanval deur gens. J.H. de la Rey, P.J. Liebenberg, J.C.G. Kemp en J.G. Celliers op ‘n Britse konvooi onder bevel van kol. Anderson by Ysterspruit in die omgewing van Klerksdorp gedoen. Verwarring het gevolg, en aan Britse kant is 53 gedood, 130 gewond en sowat 500 krygsgevange geneem, terwyl hulle geskut en ‘n groot hoeveelheid ammunisie ook in Boerehande geval het. aka fak C.M.B

No comments: