2008/02/24

24 Februarie

1866
Nederduitsch Hervormde kerkgebou, Potchefstroom ingewy


Op hierdie dag is die huidige kerkgebou van die Nederduitse Hervormde gemeente Potchefstroom deur ds. Dirk van der Hoff ingewy. Die hoeksteen was al op 20 Oktober 1859 gelê, maar binnelandse onrus het die voltooiing van die gebou vertraag. Die plegtige inwyding is ook destyds bygewoon deur die President en die hele Volksraad, wat selfs sy sitting opgeskort het om die feesviering te kan bywoon. In die kerkgebou is ‘n pragtige geelhoutpreekstoel wat in Natal gemaak is, terwyl die orrel in 1891 in die kerkgebou geplaas is. Die banke, plafon en beligting dateer ook uit hierdie tyd. In 1965 die kruiskerk, die oudste kerkgebou in Transvaal, tot ‘n historiese monument verklaar. So word hierdie pragtige voorbeeld van ons vroeë kerkboukuns bewaar. Aka fak A.D.P

1968
Randse Arfikaanse Universiteit


Die Randse Afrikaanse Universiteit het tot stand gekom ingevolge Wet nr. 51 van 1966, waarin die Randse Afrikaanse Universiteit omskryf is as Afrikaans in gees en karakter, en dat die beginsels vervat die aanhef van die Grondwet van die Republiek van RAU gehandhaaf sal word. Die Universiteit is op 24 Februarie 1968 amptelik geopen. Sy eerste kansellier, dr. N. Diederichs, is ingehuldig, nadat die eerste 741 studente hulle op 3 Februarie begin inskryf het en die eerste lesings op 13 Februarie aangebied is. In die eerste sewe jaar is van ‘n tydelike kampus in Braamfontein, Johannesburg, gebruik gemaak totdat die moderne nuwe kampus op 24 Mei 1975 deur dr. Diederichs Staatspresident en Kanselier van die universiteit, amptelik geopen is. Die RAU is ‘n universiteit van die grootstad en staan in die besonder in diens van die Afrikaanse gemeenskap. Deur sy Afrikaanse gees en karakter wil die Universiteit die kultuur, lewensbeskouing en strewe van die Afrikanervolk bevorder en verryk. Hy wil jong Afrikaners hetlp vorm en ontwikkel om volwaardig hul regmatige plek in die intellektuele, kulturele, geestelike, ekonomiese en professionele lewe van ons vaderland in te neem. FAK

No comments: